Almal wat vandag leef, stam oorspronklik uit Afrika. Afrika was die tuiste van ons vroegste voorsate wat soos vandag se mense gelyk het honderde duisende jare gelede. Skrywers, filmmakers en kunstenaars het hierdie mense se lewenswyse al probeer uitbeeld, maar ons het geen moderne ekwivalent vir gebeure so ver in die verlede nie. Wat ons wel weet, is dat hierdie mense Oos-Afrika ten minste 80 000 jaar gelede verlaat het en die res van die wêreld bevolk het.
In dié boek begin ons die verhaal by ’n paar fossielbene wat toevallig behoue gebly het en wat ons ’n idee gee van hoe ons vroegste voorsate gelyk het. Tussen een en drie miljoen jaar gelede het ’n primaat-afstamming, vandag bekend as die australopithesene, naby vandag se Johannesburg gewoon. Later, van ongeveer 1,8 miljoen jaar gelede, was Suid-Afrika die tuiste van vroeë mense met ’n anatomie nader aan ons eie. Hulle en hul nageslag het sedertdien hier gewoon en hul geskiedenis het deel van ons landskap geword.
Hierdie hoofstuk bied ’n blik op die evolusie van die mensdom en ondersoek maniere waarop ons ons antieke verlede kan verstaan. Dit beskou die groot volksverskuiwings toe die eerste mense die warm habitat van Afrika agtergelaat en tot in Eurasië versprei het, en skets in breë grepe wat daarna gebeur het.
Teen 14 000 jaar gelede het jagter-versamelaars, voorsate van die mense wat vandag as San of Boesmans bekendstaan, byna dwarsoor Suider-Afrika gewoon. Sowat 3 000 jaar gelede het mense in Noord-Afrika hul werktuie van yster eerder as klip begin maak. Ongeveer 2 500 jaar gelede het die eerste gevestigde mense hulle in Afrika suid van die Sahara tuisgemaak en landbou, smedery en pottebakkery met hulle saamgebring. Teen 2 000 jaar gelede was daar ’n massiewe omwenteling in die lewenswyse in Suider-Afrika. Die Khoi-Khoi in die noorde van die huidige Botswana het vir die eerste keer vee gekry by Bantoesprekendes wat die gebied binnegekom het, en die Khoi-Khoi self het suidwaarts getrek, na die huidige Suid-Afrika.
Landskappe van die geskiedenis




