Die Unie Word Van Stapel Gestuur Die Land Word ‘‘opgedeel’’ Swart Sienings Van Die Grond Wet

Die Grond Wet van 1913 het vir swart mense ’n groot bedreiging ingehou. Tog het dit ook, soos Sol Plaatje se biograaf aangetoon het, die geleentheid gebied om ’n breë swart weerstand te mobiliseer. Anders as baie ander griewe – reis op die spoorweë, of indiensneming in die staatsdiens – het die Grond Wet die welsyn van feitlik elke deel van die swart bevolking bedreig.

Versoekskrifte en afvaardigings het niks gehelp nie, en in Junie 1913 het die wetsontwerp wet geword. Die verwoestende uitwerking wat dit op swart mense op die platteland sou hê, het spoedig geblyk.

Plaatje, wat baie gesinne met hul vee uit die Vrystaat na Transvaal sien trek het in die geloof dat die Grond Wet slegs in die eersgenoemde provinsie sou geld, het soos volg geskryf:

Ek sal nooit die tonele vergeet wat ek in die Hoopstad-distrik gedurende die onverwagte koue weer van Julie moes aanskou nie, van gesinne wat op die paaie woon, hul kwynende vee uitgeteer deur gebrek aan voer op die trek, baie diere besig om te vrek, terwyl die eienaar die gevaar loop om vervolg te word omdat hy met ongesonde vee op trek is. Ek het die klein kindertjies sien bibber . . . en wanneer die moeders my vertel het van die tuistes wat hulle moes verlaat en die ontberings wat hulle sedert hul uitsetting moes verduur, kon ek skaars ‘n traan bedwing.

Comments are closed.