Die Indiërs in Suid-Afrika het lank in die skadu van ’n regeringsbeleid gelewe waarin hulle as uitlanders beskou is teen wie ’n mens legitiem kon diskrimineer. In een van hul onderonsies het Jan Smuts vir Gandhi botweg gesê: ‘‘Julle beskawing is anders as ons s’n. Ons s’n moenie deur julle s’n oorweldig word nie. Dit is waarom ons ons vir wetgewing moet inlaat wat beperkinge op julle moet plaas.’’ Tog het die regering nie vrye spel gehad nie. Statebondsbande, druk deur die regering in Indië en die Indiese saakgelastigde in Suid-Afrika, en ná 1945 die Verenigde Volke-organisasie, saam met protes en weerstand van die plaaslike Indiërs, het druk op agtereenvolgende regerings geplaas. Die gevolg was ’n beleid teenoor Indiërs wat verwarrend en teenstrydig was en niemand bevredig het nie.
Vir die regering sou die ideale oplossing grootskaalse repatriasie gewees het, maar in die vroeë 1920’s het gemiddeld slegs 2 500 Indiërs per jaar die land verlaat. In daardie stadium het daar sowat 141 000 Indiërs in Natal en 15 000 in Transvaal gewoon. Om die kiesers te paai, was die Smuts-regering van plan om Indiërhandel en -grondbesit te segregeer, maar hy het geweier om die provinsiale regering van Natal sy sin te gee toe dié ’n ordonnansie aanneem waarvolgens die Indiërs hul munisipale stemreg sou verloor. In 1924 het die nuwe Pakt-regering dié ordonnansie as ’n wet bekragtig. Daarna het die Indiërs hoegenaamd geen stemreg gehad nie.
In 1927 het dr. D.F. Malan onverwags namens die Pakt-regering die Kaapstadoor eenkoms met die regering van Indië onderteken. Dit het vir die Indiërs ’n mate van hoop gegee, hoewel dit bra dubbelsinnig was. Aan die een kant het die Unieregering onderneem om ’n skema in te voer waarvolgens mense wat na Indië wou emigreer, bystand sou ontvang; aan die ander kant het die regering hom daartoe verbind om die Indiër vraagstuk op te los op ’n manier wat ‘‘die handhawing van Westerse lewenstandaarde in Suid-Afrika op regverdige en wettige wyse sal beveilig’’. Voorts is verklaar dat die Unie regering ‘‘soos enige beskaafde regering’’ die plig het om alle moontlike stappe te doen ‘‘vir die ophef fing van elke deel van hul permanente bevolking’’. Dit het bygevoeg dat die ‘‘aansienlike deel van die Indiërbevolking wat deel van die permanente bevolking sal bly, nie toegelaat moet word om by ander dele van die bevolking agter te raak nie’’.
Om die ‘‘opheffing’’ gestand te doen, het die regering onderneem om ’n ondersoek in te stel na die ‘‘weliswaar ernstige stand’’ van Indiëronderwys en om die situasie van Indiërs aan die South African Native College by Fort Hare te verbeter. Hy sou ook behuising en higiëniese toestande in Durban ondersoek.
Kritici het daarop gewys dat met die onderteken van die ooreenkoms dr. Malan dit implisiet as ’n voorwaarde vir die opheffing gestel het dat toenemende getalle Indiërs die land sou verlaat. Dit het nie gebeur nie, en diskriminasie het voortgeduur, maar dit was nie meer moontlik om dit kategories te stel, soos Malan in 1922 gedoen het, dat die
Indiërs ’n uitlandse element is nie. Deur leemtes in die wet en teenstrydighede in die stelsel te benut, kon Indiërs daarin slaag om watter kanse daar ook al was, te gebruik. In sy boek Indians in South Africa (1949) merk G.H. Galpin op:
Indiërs in Suid-Afrika wonder dikwels of dit nie ’n nadeel is om Britse onderdane te wees nie. Hulle voel egter steeds dat om Britse onderdane is Suid-Afrika te wees, verkieslik is bo Britse onderdane in Indië. Inderdaad, ná die Kaapstad-ooreenkoms het hulle tot ruste gekom met ’n gevoel van sekerheid wat hulle nog nooit vantevore gehad het nie . . . Party mag ’n baie vae idee hê van wat Westerse lewenstandaarde
behels, en die Europese voorbeeld is nie altyd ’n goeie een nie, maar daar was geen twyfel oor hul gewilligheid om die kwalifikasies te verwerf wat vereis is of aan die vereistes te voldoen wat aan hulle gestel is nie.
Onderwys het ’n belangrike rol in die opheffingspogings gespeel, en private Indiërinisiatiewe het ’n buitengewone aandeel gehad aan die vooruitgang wat as gevolg van onderwys en opleiding gemaak is. Christensendelinge het die eerste skool vir Indiërs in 1869 gestig, maar skole wat deur die Indiërgemeenskap gestig is, het die aantal sendingskole spoedig oortref. Dit was die Indiërgemeenskap wat die plaaslike geldelike hulp vir die hulptoelaestelsel verskaf het – in teenstelling met die bruin en swart gemeenskap wat op kerke en sendinggenootskappe staatgemaak en die wittes wat hul onderwys feitlik gratis van die staat ontvang het.
In die eerste helfte van die 20ste eeu het vier vyfdes van die Indiërskole in Natal steun van die staat ontvang, maar die Indiërgemeenskap het die persele en geboue vir die skole verskaf. Dit was dié sterk gemeenskapsteun wat in 1930 die vestiging van die Sastri-kollege, die eerste Indiërhoërskool in Natal, moontlik gemaak het. ’n Groot skenking deur M.L. Sultan het veel daartoe bygedra om ’n tegniese kollege tot stand te bring.
Ondanks die Kaapstad-ooreenkoms het diskriminasie voortgeduur. Die stadsraad van Durban het ’n ordonnansie aanvaar wat Indiërs die reg ontsê het om grond te koop wat aan die munisipaliteit behoort. Munisipaliteite het geweier om handelslisensies uit te reik. Die beleid van beskaafde arbeid is gebruik om die getal Indiërs wat op die spoorweë gewerk het, van 3 000 in 1930 tot 500 in die dekade ná die Pakt-regering se magsoorname te verminder. In Transvaal was die beleid ’n legkaart wat dit vir Indiërs baie moeilik gemaak het om te weet waar, buite hul eie ‘‘lokasies’’, hulle kon woon, handel dryf en eiendom besit. Tog het hulle ondanks die dwarsboming kon vorder, veral in Natal waar Indiërs sedert die vroeë 1940’s oral eiendom kon besit.







