Ekonomiese Ellende En Politieke Reaksie Smelting: ‘‘Die Groot Eksperiment’’

Vir Smuts was die samesmelting van die NP en die SAP ‘‘die groot eksperiment’’, en ’n triomf vir die beginsels van universaliteit wat deur die hele wêreld opgang maak. ‘‘Die dryfkrag in hierdie menslike wêreld hoort nie morbiede vrese of ander sieklike obsessies te wees nie, maar . . . [’n] innerlike drang na gesonde integrasie en samewerking.’’
Smuts het dikwels teen ’n gees van isolasie gewaarsku. Om die nuwe fascistiese state in Duitsland en Italië teen te staan, het Suid-Afrika sy bande met die Gemenebes meer as ooit tevore nodig gehad.

Vir die VP was dit nie onmoontlik om gelyktydig Engelse vrese te besweer en Afrika nerbelange te bevorder nie. Die oorgrote meerderheid van die Engelssprekendes het na die VP gestroom en spoedig vir Hertzog as leier aanvaar. Hy was daarvan oortuig dat die reg van Afrikaans as ’n amptelike taal nou verskans was. Suid-Afrika het nasionale soewereiniteit geniet, met die reg om van die kroon af te skei en in enige oorlog waaraan Brittanje moontlik sal deelneem, neutraal te bly. Hertzog het geweet dat Smuts met hierdie vertolking verskil, maar hy, nie Smuts nie, was die leier. Die uitdaging was om ’n veilige ‘‘blanke Suid-Afrika’’ te bou, met as grondslag eenheid onder die wittes.

Hertzog het verskeie leidende Afrikaners met nasionalistiese geloofwaardigheid saam met hom die VP binnegebring. Die bekendstes onder hulle was Henry Allan Fagan (as jong man ’n aktivis vir die Afrikaanse taalbeweging), Attie Fourie (wat as minister van arbeid aan die spits gestaan het van die pogings om die armblankes op te hef) en genl. Jan Kemp (wat aan die hoof van die ministerie van landbou gestaan het toe die staat enorme uitgawes aangegaan het om boerdery lewensvatbaar te maak). Die Wet op Bemarking van 1937, wat voorsiening gemaak het vir bemarkingsrade om enkelkanaalbemarking te behartig en pryse te bepaal, het grootliks daartoe bygedra om boerdery te stabiliseer

Comments are closed.