
Genl. Jan Smuts in uniform tydens die Tweede Wêreldoorlog. Suid-Afrikaanse magte het in hoofsaaklik vier streke aan die vyandelikhede deelgeneem: Oos-Afrika (Julie 1940 tot November 1941), Noord-Afrika (Mei 1941 tot November 1942), Madagaskar (Junie tot November 1942) en Italië (April 1943 tot Mei 1945). Die twee grootste veldslae waarby hulle betrokke was, was by Tobroek in Noord- Afrika en El Alamein. By Tobroek was hulle deel van ’n Geallieerde leër wat ’n groot nederlaag teen die Duitse leër onder genl. Erwin Rommel gely het; by El Alamein het Geallieerde magte Rommel se Afrikakorps gedwing om oor te gee. Smuts was aktief betrokke by die beplanning van dié veldtogte. Hy het vergaderings van die Britse oorlogskabinet bygewoon en is tot ’n veldmaarskalk in die Britse Leër verhef. Hy het nogtans as “Die generaal” onder sy vriende bekend gebly – hy het self gesê hy was te oud om van naam te verander.
Suid-Afrika, onder genl. Jan Smuts, was een van die wenlande toe vrede in 1945 ná afl oop van die Tweede Wêreldoorlog aanbreek. In die stryd teen een van die grootste bedreigings vir vryheid en demokrasie het hy sy deel gedoen en baie opgeoffer. Die Westerse moondhede het die oorlog gewen, maar hul oorheersing oor die sogenaamde Derde Wêreld – en daarmee saam die opvatting dat wittes meerderwaardig is – is sommer gou uitgedaag toe leiers van nasionalistiese bewegings in Asië en Afrika steun vir onafhanklikheid en vryheid begin werf het.
Die oorlogspoging het ook verstedeliking en rasse-integrasie in Suid-Afrika vinniger laat plaasvind. Die apartheidstelsel was ’n poging om dié prosesse te stuit deur te keer dat swart mense na die stede toe trek en hulle selfs na die tuislande te laat terugstroom, en ook te sorg dat die ekonomie sover moontlik op trekarbeid gebou word. Swartes moes hul politieke regte in hul onderskeie ‘‘tuislande’’ uitoefen.
Halfpad deur die oorlog het die leiers van die Afrikanernasionalistiese beweging hul gedagtes oor apartheid agtermekaar begin kry. In 1943 het Die Burger die term ‘‘apartheid’’ die eerste keer gebruik toe hy na die ‘‘aanvaarde Afrikanerstandpunt oor apartheid’’ verwys het.
In Januarie 1944 het D.F. Malan as leier van die opposisie die woord die eerste keer in ’n toespraak in die Parlement gebruik. En ’n paar maande later het hy daaroor uitgewei: ‘‘Ek gebruik nie die woord ‘segregasie’ nie, want dit word as afhok uitgelê, maar eerder ‘apartheid’, wat die onderskeie rasse die geleentheid sal bied om hulself op die grondslag van dit wat hul eie is, op te hef.’’ Swartes, en veral die intellektuele, het op die toenemende rassediskriminasie gereageer.







