Die Mandela-presidensie Agteruitgang Van Die NP

Die NP se pogings om hom in die nuwe regering te laat geld, het gou gewankel. Die ANC wou hom geen krediet vir sy aandeel gee nie. Sy eie steunbasis het verkrummel, en al hoe meer ondersteuners het na die DP oorgestap, want dié is as ’n doeltreffender opposisie beskou.

De Klerk het steeds gehoop dat sy party ná die eerste demokratiese verkiesing in sekere strategiese sektore die hekwagter sou wees, maar daar was sommer gou vraagtekens oor sy vermoë om as beskermer van dié sektore op te tree. Toe die ANC nasionalisering as ’n beleidsopsie laat vaar, het sakelui die ANC gou aanvaar as ’n regering waarmee hulle sake kan doen en hul steun vir die NP afgeskaal. Die meeste wit staatsamptenare het vroeg reeds besef die onderhandelings sal ’n swart meerderheidsregering meebring en dat talle van hulle deur swart mense vervang sou word. Hulle het die NP ook verlaat, want dié kon hul belange nie meer waarborg nie. Boonop het die ANC belowe om pensioene en bevredigende uittreepakkette te betaal aan almal wat uit diens gestel wil word.

Die veiligheidsmagte se vervreemding het in ontsteltenis verander toe ’n geleentheid om ’n amnestie vir lede van alle partye te beding, verspeel word. Tydens ’n besoek aan Suid-Afrika vroeg in 1992 het Cyrus Vance, ’n voormalige minister van buitelandse sake van die VSA, die onderskeie partye aangeraai om ’n algemene amnestie te aanvaar om
dié probleem uit die weg te ruim. Heel onverklaarbaar het die De Klerk-regering hieroor voete gesleep. In die laaste onderhandelingsronde is ’n klousule inderhaas ingesluit wat menseregteskenders sou dwing om amnestie te vra om vervolging te vermy. As toekomstige meerderheidsparty sou die ANC die grootste seggenskap hê in die samestelling van die kommissie wat amnestie en die verlede sou bespreek.

Die NP is ook sterk gekritiseer omdat hy die toekomstige status van Afrikaans baie wankel gelaat het. Niemand het verwag dat Afrikaans sy voormalige status sou behou nie, maar min mense het gedink die NP sou Afrikaanse skole en universiteite so weerloos laat. Die Grondwet het die regte van enkelmediumonderrig erken waar dit moontlik was,
maar ook vir die reg van toegang (in die praktyk deur middel van Engels) voorsiening gemaak. Die nuwe regering het gou laat blyk dat hy laasgenoemde reg as belangriker as eersgenoemde beskou het. Die eerste twee ministers van onderwys het dit duidelik gestel dat Afrikaanse universiteite vir hulle onaanvaarbaar is.

Binne die eerste tien jaar het sowat 40% van die Afrikaanse skole wat in 1990 enkelmedium was, parallel- of dubbelmedium geword. Die bestendige insypeling van Engels in die voormalige Afrikaansmedium-universiteite het Afrikaans op die agtervoet geplaas. Op die staatstelevisie is Afrikaans eensklaps van om die helfte met Engels op een kanaal tot minder as 10% van die keurtyd op ’n ander kanaal verminder. Staatsinstellings het min ag geslaan op die grondwetlike bepaling dat die staat minstens twee van die elf amptelike tale moet gebruik. Die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, wat kragtens die Grondwet ingestel is om die inwerkingstelling van die taalklousules dop te hou, het gewaarsku dat dié praktyk ’n algemene oneerbiedigheid teenoor die Grondwet sou kon meebring. In die regering van nasionale eenheid is daar van die NP-ministers verwag om binne die ANC se beleidsraamwerk te werk. Daar is geen konvensies vir die kabinet bepaal nie. Die ANC het De Klerk sterk gekritiseer wanneer hy verskille oor vraagstukke wat die kabinet bespreek het, in die openbaar genoem het.

Die grootste onenigheid tussen die ANC en die NP was oor die verskansing van ’n magsdelende kabinet in die finale Grondwet. Toe die ANC weier, het De Klerk die NP aan die einde van 1996 aan die RNE onttrek. In Januarie 1997 het hy in ’n toespraak in Londen verklaar dat daar geen gebalanseerde politieke skikking was soos die NP wou hê nie; daar was eerder ’n magsprysgawe en daarmee saam ’n verlies aan ‘‘soewereiniteit’’.

Die besluit om die reg op nasionale soewereiniteit prys te gee, is beslis een van die pynlikste wat van enige leier gevra kan word. Die meeste nasies waag eerder oorlog en katastrofe as om dié reg prys te gee. Dit is egter die besluit. Ons moes aanvaar dat dit nodig is om die ideale wat ons gekoester het, en die droom waarvoor so baie generasies gestry het, en waarvoor so baie van ons mense gesterf het, prys te gee.

In reaksie het Die Burger, onder die opskrif ‘‘Oorgawe’’, gevra of die leier van ’n party wat in die onderhandelings so swak gevaar het, as leier kon voortgaan. Ter verdediging het De Klerk daarop gewys dat hy nooit ’n wit minderheidsveto belowe het nie. Hy het die storm oorleef, maar sy politieke rol het geëindig. Die NP se steun het bestendig by die stembus gedaal, en De Klerk se uittrede uit die politiek in Augustus 1997 het dié party net vinniger laat agteruitgaan.

Comments are closed.