Die demokrasie het in ’n gees van versoening weggespring, en dit is deur Mandela versinnebeeld. Hy het nie veel tyd op kabinetsvergaderings deurgebring of die naderende krisisse van werkloosheid en ’n daling in die doeltreffendheid van die strafregstelsel probeer stuit nie. Hy het as wyse staatsman, waardige vredemaker, opperste politikus en verbeeldingryke samesnoerder van mense oor rassegrense heen aan die stuur gestaan. Hy het selfs tee met Betsie Verwoerd en ander weduwees van NP-leiers gedrink. Hy het geen teken van bitterheid oor sy 27 jaar in die gevangenis getoon nie.
Mandela het wittes bekoor; sy betowering het ’n staat van ‘‘charismatiese verwarring’’ geskep, soos een kommentator dit beskryf het. Die hoogtepunt was sy verskyning by die eindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi in 1995 in Johannesburg nadat daar besluit is die nasionale rugbyspan sal sy groen-en-goue trui met die springbok-embleem behou, al was dit vir baie mense ’n simbool van apartheid in sport. Mandela het so ’n trui aangetrek en voor ’n skare van 70 000 op die veld verskyn om die spelers voorspoed toe te wens. Die opgesweepte Springbokke het teen die verwagting in die wêreldbeker gewen.




