Onderhandelings En Woelinge Moordbendes

In Januarie 1990 het De Klerk die eerste maal gehoor van moordbendes in die veiligheidsmagte wat sluipmoorde uitgevoer het. Die Burgerlike Samewerkingsburo (BSB) was ’n militêre eenheid waarin meestal voormalige polisiebeamptes gedien het en wat politieke teenstanders vermoor of ernstig gewond het. Daar was ook ’n soortgelyke polisie-eenheid met die formele naam C-10. Omdat die eenheid op Vlakplaas naby Pretoria gebaseer was, het dit as die Vlakplaas-eenheid bekend geword.

Die regering het die Harms-kommissie aangestel om die aantygings van politieke sluipmoorde deur die veiligheidsmagte te ondersoek. ’n Gebrek aan samewerking van die leiers van dié magte, saam met gebrekkige en gefabriseerde getuienis, het dit onmoontlik gemaak om die georganiseerde aandadigheid van die staat aan die dood van aktiviste onomwonde te bewys. Sommige Vlakplaas-lede is wel aan gewone wetsoortreding skuldig bevind. Die De Klerk-regering het eers in Maart 1994 bewyse van baie groter betrokkenheid van die Vlakplaas-eenheid verkry. Daar was ook die Coast-projek, wat vir verdedigingsdoeleindes navorsing oor chemiese en biologiese wapens gedoen het. Later is beweer dié operasie het stowwe gelewer waarmee aktiviste vermoor kon word.

Comments are closed.