
Die oosaansig van Highclere. Die mure is dik en massief. Dit is van klip en skulpkalk gebou. Die gebou is restoureerbaar. Foto: Marthinus van Bart

Highclere se ringmuur van klip en skulpkalk. Links is die Blue Peter Hotel sigbaar, en agter kan Tafelberg gesien word. Foto: Marthinus van Bart

- Highclere, die aftreewoning van sir Langham Dale, superintendent-generaal van onderwys in die Britse-koloniale regering van die laat 1800′s. Die woning is by Ranckestraat 8, Bloubergstrand. Dit is een van die min oorblywende voorbeelde van Bloubergstrand-argitektuur van die 1800′s. Dit word deur sloping bedreig. Die foto word in die Kaapse Argief bewaar.
Deur MARTHINUS VAN BART
Een van die heel laaste oorblywende strandhuise uit die middel 1800’s aan die seekant by Bloubergstrand, die aftreewoning Highclere van sir Langham Dale, superintendent-generaal van onderwys in die Britse koloniale tydperk, loop gevaar om gesloop te word.
Die stewige platdakwoning van klip en skulpkalk op erf 280 by Ranckestraat 8 verkeer reeds in ’n gevorderde stadium van erge verwaarlosing en beskadiging.
’n Slopingspermit is deur die eienaar, na verneem word ’n buitelandse hotelier, by die provinsiale bewaringsinstansie Erfenis Wes-Kaap aangevra.

So lyk die agterkant van Highclere vandag. Let op die woonstelgebou wat die see-uitsig van talle inwoners versper. Daar word gevrees dat indien die sloping van Highclere toegelaat word, 'n soortgelyke woonstelgebou op die erf opgerig gaan word. Bewaring vir die algemene gemeenskap sal dan ten koste van private winsneming sneuwel. Foto: Marthinus van Bart
Die aansoek word teengestaan deur verskeie inwoners van die omgewing wat wil hê die gedenkwaardige gebou moet behou en gerestoureer word.
Hulle is ook bevrees dat die perseel, wat ná die sloping glo as parkeerterrein benut gaan word, uiteindelik met ’n veelverdieping-woonstelgebou bebou sal word. Daar is reeds so ’n gebou in die nabye omgewing wat die inwoners aan sy noordekant van hul see-uitsig beroof.
Besorgdes het aan Eiendomme gesê daar is weinig beleggingsopbrengste uit ’n parkeerterrein te verkry. Die hoë woonstelgebou daar naby het die presedent geskep dat nog ander veelverdieping-geboue in dié omgewing opgerig kan word. Daar is wel groot winste uit woonstelgeboue te maak.
Hoewel die gebou van groot bewaringsbelang is, is die aansoek nie aan die media bekend gemaak nie. Eiendomme het eers daarvan verneem nadat van die besorgde inwoners die aandag daarop gevestig het.

So lyk die see-aansig, die vooraansig, van Highclere vandag. Dit is erg verwaarloor en verniel. Foto: Marthinus van Bart
In weerwil van vele telefoonoproepe en e-pos-boodskappe sedert verlede week aan Erfenis Wes-Kaap en die SA Erfenishulpbronagentskap, was Eiendomme se pogings om die besonderhede van die saak (no. 110907TG07) te bekom, vrugteloos.
Eiendomme ervaar daarmee dieselfde doodloopstraat as met verlede jaar se omstrede saak oor die voorgenome ontwikkeling by die Lutherse kerkperseel in Strandstraat, Kaapstad, wat deur Erfenis Wes-Kaap goedgekeur is, maar deur die Stad Kaapstad gekeer is.

Die omstrede ontwikkelingsplanne vir die ou VOC Graanskuur langs die historiese Lutherse kerk in Strandstraat, Kaapstad. Hierdie planne is onder geheimhouding deur Erfenis Wes-Kaap goedgekeur. Nadat KultuurKroniek dit op eie inisiatief bekom het en dit wyd gepubliseer is, het die Stad Kaapstad die ontwikkeling afgekeur.
Betrokkenes by die Blouberg-saak het aan Eiendomme gesê ook hulle word oor die besonderhede van die saak in die duister gehou. Hulle word selfs openlik deur verteenwoordigers van die aansoeker met hofstappe om skadevergoeding gedreig as hulle sou aanhou om hul demokratiese reg uit te oefen en die sloping teen te staan.

So lyk Highclere tans binne. Die massiewe balke is uitgebreek en die gebou is erg beskadig. Vandalisme en plundering is kennelik uitgesluit, want dan sou die balke nie daar bly lê het nie. Foto: Marthinus van Bart
Die appèl van die beswaardes word aanstaande Woensdag, 22 Februarie 2012, in Kaapstad om 09:30 aangehoor. Dit vind plaas by Erfenis Wes-Kaap se hoofkantoor aan die Groentemarkplein.