Hoewel die Khoi-Khoi skynbaar nie self metale gesmee het nie, noem die eerste Portugese besoekers dat hulle koper vir juweliersware gebruik en groot prys op yster vir spiespunte gestel het. Dié metale het waarskynlik deur langafstand-handel met Bantoesprekendes in die binneland by die Kaap uitgekom. Die Khoi-Khoi het ook dagga geruil. ’n Vraag na sulke goedere was die grondslag van handel met Europese seevaarders en veral die Engelse en Nederlanders. Dié nasies het in die 1590’s gereeld tydens hul vaarte na Asië en terug by Tafelbaai begin aandoen.
Aanvanklik het die Khoi-Khoi heel gewillig die skape en beeste wat die honger Europese seemanne so desperaat wou hê, geruil. Hulle het klein hoeveelhede yster, koper en tabak (wat blykbaar as ’n mak plaasvervanger vir dagga gebruik is) daarvoor gekry. Hulle het egter gou agtergekom dat die Europeërs bereid was om veel meer as metaalsnuisterye en tabak vir beeste te betaal. Die prys van vee in Tafelbaai het dus gedurig gestyg. Sommige Europese seemanne het sommer gou al vee begin steel. Die lang tydperk van handel en botsings in Tafelbaai was ’n wonderlike geleentheid vir Khoi-Khoi wat Europese tale aangeleer het om as tussengangers op te tree. Twee van hulle – Herrie en Doman (sien Drie-khoi-Khoi-Tolke) – het ’n groot rol gespeel in die nuwe nedersetting wat Jan van Riebeeck in 1652 gevestig het.







