Mense Van Die Tweede Millennium Venda-oorspronge

Omstreeks 1300 het leiers van Mapungubwe en hul volgelinge noord van die Soutpansberg gaan woon. Die berge is ryk aan metaalerts, goeie grond en weiveld, en destyds sou daar volop wild gewees het, veral olifante. Klaarblyklik het dié hulpbronne die Mapungubwemense gelok, en hulle het ná die ineenstorting van die Mapungubwe-staat daar aangebly. Gemeenskappe wat ’n verwantskap met die Kalundu-tradisie gehad het, het suid, en verder oos aan die noordekant, gewoon. Daar is argeologiese bewyse van wisselwerking tussen noord en suid, maar die berg was ’n betreklik sterk etniese en ekonomiese grens wat die elite van Mapungubwe en die gemeenskappe teen die suidelike hellings geskei het. Dié skerp skeiding het steeds bestaan toe vroeë Sotho-Tswana-mense omstreeks 1350 in die suide kom woon het. Dit lyk asof hulle die bestaande Kalundu-mense hier betreklik gou geabsorbeer het.

Paleise met klipmure in die Khami-styl is van 1450 suid van die Soutpansberg gebou. Die terreine is dalk ’n suidwaartse uitbreiding van die Khami-staat, of gebou deur Khamileiers wat van die Khami-staat onafhanklik wou wees. Die gebied was in elk geval gou onder beheer van Khami-dinastieë wat die Mapungubwe-elite vervang het. Die Khamileiers het bande met handelaars oor die Indiese Oseaan gesmee (sien Die Handelstelsel oor die Indiese Oseaan heen) en ivoor, goud en koper uitgevoer. Die berggrens tussen die Shona en Sotho het vervaag, want Sothosprekendes het al hoe meer ook begin handel dryf, en Sotho-terreine is na die noorde gevestig. Sulke interaksie moes huwelike tussen Kalanga- en Sothosprekendes ingesluit het, en in die 1500’s was ’n gemengde Kalanga/Sotho-keramiekstyl (Tavhatshena) ’n gevolg daarvan. Dié styl val met die ontwikkeling van die Venda-taal saam. Taalkundig gesproke het Venda ’n Kalanga-agtige grammatika en fonologie, maar die woordeskat kom meer met Sotho ooreen. Venda het op Sotho-blyplekke ontwikkel. Die verspreiding van die Vendaerdewerkstyl toon dat die taal teen 1650 orals in die Soutpansberg gepraat is.

Die Khami-gebied in Suidwes-Zimbabwe het in die middel 1600’s ’n burgeroorlog beleef, en verskeie kleinskaalse leiers het hierna te voorskyn getree. Die beroemde Rozvi-leier Changamire Dombolakonachingwango het hulle omstreeks 1680 verslaan en herenig. Weens ’n opvolgingsgeskil ná sy dood in die 1690’s het die Singo van die Rozvi afgestig en Venda-gemeenskappe in die Soutpansberg binnegeval en verenig. Hulle het by Dzata ’n hoofstad gevestig (dié is van donkerblou klip gebou) en Venda geword deur hul verowerde onderdane se taal te aanvaar.

Die Singo het steeds met die buiteland handel gedryf, maar weens ’n nuwe dinamiek in die buitelandse handelsroetes vanaf omstreeks 1700 het Singo-beheer oor die Ooskushandel geleidelik verswak. Delagoabaai en Natal-baai het as toegangspunte tot die binneland al hoe belangriker geword, en dit het ander mense die kans gegee om handelsweelde te beheer en te benut. Die Venda-bestel het dus versplinter.

Comments are closed.