As ’n mens Afrikane bestaansboere noem, wek dit die indruk dat hulle min handelsbelange buiten ’n mielieland en vee kraal gehad het. Daar is egter volop bewyse van handelsroetes orals op die vasteland in die pre-koloniale tyd. Die dryfkragte was die ongelyke verspreiding van minerale in Suider- Afrika, en ’n vraag na vee onder die metaalbewerkers. ’n Vraag na tabak en dagga onder die Khoisan, wat nie akkerbouers was nie, het ook ’n vraag na ruilgoedere geskep.
Die Hurutshe en Kwena van die Rustenburg- Marico-gebied het yster en koper ontgin. Die Khoi-Khoi van die Oranjerivier en Groot-Karoo het dit van die “Briekwa” of “Bok-mense” (die Thlaping en Fokeng van die suidelike hoëveld) gekry en na die Xhosa en Thembu van die Oos-Kaap geneem. Dié was altyd gretig om metaal te bekom. Van die noordooste het die yster- en koper myne van Musina (sien Die kopermyne van Musina), Venda en Phalaborwa die Oos- Transvaal- en trans-Limpopo-streek be dien. Die Lemba en Tsonga van Delagoa baai het die meeste van dié handel onderneem.
Langs die Oranjerivier was die ruilpryse soos volg: ’n vers was agt spiese, ’n byl, ’n els, ’n klein sakkie tabak en ’n klein sakkie dagga werd, maar ’n os of bul was net vyf spiese en “al die ander dinge soos vir ’n vers” werd.







