Boere uit Afrika het omstreeks 1 700 jaar gelede die eerste maal in die huidige Suid-Afrika kom woon, en ’n nuwe lewenswyse na die suide van die vasteland gebring. Hul voorsate het tussen ongeveer 2 000 en 4 000 jaar gelede die eerste maal in die omgewing van die huidige Kameroen en Nigerië begin boer. Daarvandaan het mense oos en suid beweeg (buite-om die tropiese woude wat nie vir hul gesaaides en diere geskik was nie), waarskynlik omdat hulle nuwe landbougrond en bronne van ystererts moes gaan soek. Boeregemeenskappe het die huidige Noord-Angola en Oos-Afrika vroeg in die eerste millennium n.C. bereik. Daarvandaan het hulle steeds suid na die grasveld-omgewing versprei waar hulle goeie weiveld, bewerkbare grond en genoeg reënval vir gesaaides soos sorghum, trosgras, peul- en pampoengewasse gekry het.

’n Pot uit KwaZulu-Natal in die Kalundu-tradisie, van omstreeks 600-700. Die versiering is ’n strook om die rand (heelwat daarvan is stukkend), ’n paar stroke om die nek, en omgekeerde driehoeke om die skouer. Dit is ’n voorbeeld van die ingewikkeldste versiering van dié tyd. Die pottebakker het die driehoeke letterlik laat uitstaan deur die klei rondom weg te krap.
In hierdie afdeling bespreek ons Afrika-boere in Suid-Afrika, van die era toe die eerstes hier aangekom het tot 1800. Daar is ongelukkig geen ruimte vir ’n bespreking van hul interaksie met die jagter-versamelaars nie, hoewel daar baie bewyse hiervan is. Daar is slegs ná 1500 skriftelike verslae van Afrika-boere se lewe. Hul geskiedenis word dus hoofsaaklik deur argeologiese ondersoeke verhelder: sonder argeologie sou daar inderdaad geen geskiedenis van Suid-Afrika wees nie.
Die erdewerk in die styl van die Kwale-tak toon dat die eerste boere in Suid-Afrika afgestam het van mense wat in Oos-Afrika gewoon het. Hulle het van omstreeks 280 in die ooste van die subkontinent begin woon; terreine is in Suidoos-Zimbabwe, naby Tzaneen, in die Nasionale Krugerwildtuin en in Swaziland en Mosambiek gevind. Teen 400 het hulle suid na die kusgebied van KwaZulu-Natal, tot by die middel van die Suidkus, beweeg.
Ander boere, die afstammelinge van mense wat van Wes-Afrika na Angola beweeg het, het omstreeks 550 in Suid-Afrika begin woon. Ons kan hulle aan hul erdewerk in die Kalundu-tradisie herken. By alle Suid-Afrikaanse terreine met erdewerk in die vroeë Kalundu-tradisie is daar bewyse van interaksie met mense van die Kwale-tak. Style word in mindere of meerdere mate gemeng, en versierings word geleen. Dié interaksie het waarskynlik huwelike ingesluit. Ons weet nog nie watter invloed dit op taalontwikkeling gehad het nie.
Vier keramiek-styleenhede het uit die samesmelting te voorskyn gekom. Teen die laat 8ste eeu het pottebakkers van dié vier eenhede tot in die heel suidelike bosveld-omgewing van die somerreënvalstreek naby die huidige Oos-Londen beweeg. Die Kalundu-erdewerkstyl oorheers in al vier eenhede, en ’n mens wil graag aanvaar dat dit op die oorheersing van die Kalundu-taal dui. Die ontstaan van vier styleenhede, wat daarna verskillend ontwikkel het, dui op taalverskille wat mettertyd sterker geword het.
Gewoonlik het boere langs riviere of vleie gaan woon. Terreine was tot vyf of tien hektaar groot, en daar was dikwels ’n digte konsentrasie van artefak-oorblyfsels. By talle is daar bewyse van baie lang bewoning, of verskeie bewonings. In die bosveld-omgewing was daar hout vir nywerheids- of tuisgebruik, en die hele jaar deur goeie weiding. Op sommige plekke het die boere waarskynlik die somerweiveld in die graslande op die hoë gebiede bokant die valleie benut. Gesaaides het biesie- en vingertrosgras en sorghum in – gesluit. Getuienis uit KwaZulu-Natal en elders in Suider-Afrika dui daarop dat peulgroente (jugo- en swartbekbone) asook wilde spanspekke en pampoengewasse gekweek is. Veldplante is ook as kos benut; verkoolde maroelasaad is byvoorbeeld op baie terreine gevind.
Die gemeenskappe het grootliks vir vleis op hul mak beeste, skape en bokke staatgemaak, maar waarskynlik soms ook hoenders geëet. Jag het meestal min tot die dieet bygedra; mense het primate, karnivore, verskeie hoefdiere, groot soogdiere soos olifante en seekoeie asook kleiner soogdiere soos ietermago, kommetjiekat en hase geëet en vir rituele en maatskaplike vereistes benut, en ook vir tydverdryf gejag.
Op plekke met swak weiding was jag belangriker; bewoners van die huidige Nasionale Krugerwildtuin het op groot kuddediere gekonsentreer, en by slegs een terrein van die 1ste millennium was daar ewe veel vleis van mak diere as wild. Hier is vee waarskynlik vir maat skaplike doeleindes benut, byvoorbeeld in ruil-verhoudings.
Riviere is selde vir kos benut, maar mense naby die kus het in die vlak water en strandgebied kos gekry. Daar is byvoorbeeld naby die huidige Durban oorblyfsels van seevisse en skulpvis op plekke 25 km van die kus af. Reise na die kus vir kos is waarskynlik vir lae springgetye beplan. Langs die strande is daar oorblyfsels van skulpvis, keramiek, vuurmaakplekke en vuurklippe in afvalhope. Ons weet nie hoe dikwels mense van die binneland by die kus kom visvang het nie. Miskien het hulle vis gekry by mense wat geweet het hoe om in die see en riviermondings vis in die hande te kry. Spesies wat uit geken is, is onder meer dié wat maklik in riviermondings vasgekeer kan word, asook swart- en witbiskoppe (wat deesdae met taamlike moeite van rotspunte met lyne gevang word).







