Omstreeks 900 het Zhizho-boere in die huidige Zimbabwe verhuis na die Shashe-Limpopokom waar die grense van die huidige Suid-Afrika, Zimbabwe en Botswana bymekaar kom. Swahili-, Arabiese, Indiese en Indonesiese handelaars wat by die Indiese Oseaan-handel betrokke was, het toe reeds belang gestel in die hulpbronne van Sofala se hinterland, met ander woorde die binnelandse deel langs die kus van Mosambiek. Ivoor, yster en goud was van dié hulpbronne.
Die Zhizho-verhuising wou waarskynlik by dié handel baat. Destyds was die Limpopovallei te droog om altyd suksesvol daar te boer, maar daar was troppe olifante. Die meeste Zhizho-terreine in die kom lê op hoë grond, nie by die bewerkbare grond waar die olifante sou gewei het nie. Die Zhizho-hoofman se woonplek was waarskynlik op ’n groot terrein wat tans as Schroda bekend staan. Daar was waarskynlik tot 500 inwoners, en baie ivoor is daar gevind. Ander oorblyfsels is onder meer glaskrale, muntskulpe en reste van roofdiere, wat moontlik gejag is sodat hul velle uitgevoer kon word. Schroda was waarskynlik ’n uitvoerpunt vir handelsware na die kus in die omgewing van Vilanculosbaai, en van daar na verre lande. In ruil het die Zhizho-mense glaskrale, tekstiel en ander eksotiese ware gekry.
Die wye verspreiding van Zhizho-glaskrale in Suider-Afrika dui daarop dat die Zhizhomense handelsgoedere gebruik het om uitvoermateriaal en landbouprodukte te kry om hul eie boerdery aan te vul. Interessant genoeg is daar maar min Zhizho-glaskrale op Swahili-terreine verder noord langs Afrika se kus. Die Limpopo-Zhizho se belangrikste handelsvennote was waarskynlik Indonesiërs en inwoners van Madagaskar wat van Indonesiese afkoms was, eerder as handelaars wat die moesonwinde benut het om tussen Afrika, Arabië en Indië handel te dryf. Indonesiese handelaars kon met behulp van die ekwatoriale passaatwinde binne ’n maand regstreeks van Suidoos-Asië na Madagaskar en die kus van Afrika gevaar het. Daar is heelwat getuienis vir dié veronderstelling.
Schroda se al hoe groter welvaart het die aandag van Kalundu-mense verder suid getrek. Hulle het omstreeks 1000 noord getrek en beheer van die gebied geneem. Die teenwoordigheid van Kalundu-keramiek orals in die Shashe-Limpopo-kom bied argeologiese bewys hiervan. Dié mense het by ’n terrein met die naam K2, wat in ’n stadium tot 1500 mense gehuisves het, ’n hoofstad gebou. In die volgende 200 jaar het K2 se leiers groot rykdom in die gedaante van handelsware vergaar, en dié rykdom op ’n nuwe manier onder die mense verdeel. Teenoor die wye verspreiding van handelsgoedere in die Zhizhotyd het die leiers van K2 streng beheer oor handelsware ingestel, en die elite het die invoere meestal self gehou. Plaaslike spesialiste het byvoorbeeld ingevoerde glaskrale gesmelt en opnuut in groter “tuinrollers” gegiet, en dié is deur middel van handels- en maatskaplike netwerke na die binneland versprei. Die wye verspreiding toon dat K2 die middelpunt van ’n omvangryke wisselwerking-sfeer was.
Danksy beheer oor die handel kon die K2-leiers en hul vennote rykdom in ’n ander vorm as beeste vergaar, maar beeste sou ongetwyfeld steeds saam met rykdom in handelsware belangrik gewees het. Die besit van beeste sou hul status in die samelewing versterk het, en hulle in staat gestel het om aan tradisionele uitruil-verhoudings deel te neem. Mettertyd het die leiers waarskynlik feitlik al die beeste in die koninkryk besit. Argeologiese getuienis dui daarop dat die sentrale veekraal by K2 omstreeks 1150 in onbruik verval het en deur ’n al hoe groter afvalhoop bedek is. Die organisering van die ruimte by K2 het met ander woorde verander, en dit het nie meer met die Sentrale Vee-patroon oor een gestem nie. Dit dui waarskynlik daarop dat beeste die uitsluitlike besit van die elite geword het; die gewone mense kon nie meer ryk word deur beeste te vergaar nie. Die K2-elite het ’n afsonderlike koninklike kategorie vir hulself geskep – daar was nou standverskille.
Die K2-elite het by beter klimaatsomstandighede gebaat. Intensiewer landbou was nou in die kom moontlik, en dit kon ’n vinnig groeiend bevolking onderhou. ’n Bepaalde same voeging van rivier- en topografiese eienskappe in die kom maak vloedvlakteboerdery moontlik (altans in nat jare). Die Limpopo was in dié opsig die Nyl van Suid-Afrika. Die al hoe meer komplekse gemeenskap by K2 het ook ’n komplekser bestuur van grond en ander hulpbronne meegebring. Spesialiste het weerskante van die rivier op lande gesaai des versorg (die olifante is toe reeds verjaag), of vee bestuur, of keramiek of tuinroller-krale vervaardig. Sommige van dié spesialiste was afstammelinge van die oorspronklike Zhizho-mense. Hoewel die meeste van hulle deur die Kalundu-oorname wes verdryf is, het dié wat gebly het, hul eie identiteit binne die oorheersende K2-bestel behou. Miskien was dit moontlik omdat die K2-mense hulle as “Eerstes” beskou het, met ’n besondere band met die grond. Dit lyk dus asof Zhizho-afstammelinge spesialiste in handvlyt, vee en rituele geword het. Die Eerstes-status sou hulle egter van politieke mag uitgesluit het; K2 se leiers het dit waarskynlik eerder as ’n hulpbron uitgebuit en gemanipuleer.







