Suid-Afrika Se Jagter-versamelaars Die Betekenis Van Rotskuns

Khoi-Khoi finger painting

Khoi-Khoi-vingerskildering uit die Carnarvon-distrik met patrone wat tydens inisiasierituele vir meisies gebruik is.

Daar is oorweldigende getuienis dat die skilderings en graverings van Suider-Afrika se jagter-versamelaars die metafore, konvensies en gebruike van ’n San-geloof uitbeeld. Só ’n geloofstelsel bestaan nou nog in oorblywende gemeenskappe in Namibië en Botswana. Dit was die band wat San-gesinne en -gemeenskappe saamgesnoer het.

Die belangrikste bron van inligting oor San-opvattings in Suid-Afrika is aantekeninge wat in die 1870’s oor die /Xam-San van die Noord-Kaap gemaak is. Dit is opgestel deur Wilhelm Bleek en Lucy Lloyd, wat onderhoude gevoer het met /Xam-mans wat weens veediefstal en ander misdade in Kaapstad in die tronk was. Hul getuienis stem baie ooreen met verhale van San wat in die 20ste eeu deur volkekundiges uitgevra is.

Soos David Lewis-Williams se vernuwende navorsing getoon het, was die diere in rotsskilderings belangrike elemente in die San se religieuse lewe, net soos die lam in die Christelike geloof ’n simbool is en die arend vir inheemse Amerikaners belangrik is. Die San het geglo die eland gee hulle toegang tot bonatuurlike magte om siek mense te genees, reën te maak en wild te beheer. Ander diere, soos die olifant in die Wes-Kaap, en die koedoe in Limpopo, het net sulke sterk konnotasies.

Recent rock paintings

Resente rotsskilderings van mense in koloniale kleredrag met perde, muile, gewere en waens.

Opgeleide toordokters of !gi:ten kon bonatuurlike kragte verkry. Oor jare heen het hulle geleer hoe om dié kragte te beheer, deur só lank te dans en sing dat hulle in beswyming raak. Talle skilderings toon optogte van dansende mense. Soms dra hulle karosse, en soms stokke of vlieëwaaiers wat van dieresterte gemaak is. Dansende vroue word ook dikwels uitgebeeld, of anders klap hulle hande. Tasse met tossels wat langs die dansers of optogte uitgebeeld word, het medisyne of kruie soos boegoe bevat wat hulle gehelp het om in beswyming te raak. Dit kon ook gebruik word om siekes te genees. Dwelms soos dagga is nie dikwels gebruik nie.

Skilderings en graverings van mense met dierekoppe, of diere met mensbene, is ’n veelvlakkige metafoor. Dit illustreer die gevoelens wat ’n !gi:ten in ’n beswyming ervaar. Hulle het gevoel hulle word die dier wat hulle die bonatuurlike krag gee. Die toordokters het die dood as metafoor vir die beswyming gebruik, want dit het vir hulle gevoel asof hulle doodgaan en dan weer lewend word.

Oplaas was die krag van die geestewêreld egter nie sterk genoeg om hulle te beskerm nie. Rotsskilderings van soldate in rooi baadjies wat met gewere op voortvlugtende San skiet terwyl ’n toordokter eenkant in ’n beswyming lê, herinner ’n mens aan die gebeure wat gelei het tot die afsluiting van die Steentyd in Suid-Afrika.

Comments are closed.