Honderd duisende geslagte jagter-versamelaars het bykans twee miljoen jaar lank in Suid-Afrika geleef, maar vir verreweg die meeste van dié tyd weet ons niks van hul name, tale, oorlewerings, oortuigings, oorloë of bondgenootskappe nie. Ons kan hul geskiedenis nie met die gebruiklike historiese metodes naspeur nie, en dit is dus stukkie vir stukkie opgebou deur argeoloë wat net soos speurders dinge bekyk wat baie lank ná die gebeure nog op die toneel rondlê.
Hierdie afdeling is ’n opsomming van wat ons weet van die Steentyd, die lang tydperk waartydens die mensdom ontwikkel het. Dit is moeilik om deeglik te besef hoe lank alles geduur het, maar gelukkig het ons menslike voorsate klip as werktuie gebruik, en dit gaan nie sommer tot niet nie. Terwyl die tegnologie, menslike evolusie, lewenswyse en oortuigings stadigaan verander het, is groot ontdekkings gemaak. Daar was ook aanpassings by nuwe maatskaplike en omgewingsomstandighede, volksverskuiwings na gunstiger plekke, die ontwikkeling van maatskaplike praktyke, en ’n groot bevolkingsaanwas. Alles was die voorspel tot die vinnige pas van die onlangse Suid-Afrikaanse geskiedenis.
Geskiedenis wat nooit neergeskryf is nie
Die lang geskiedenis van die Steentydmense




