Uit Afrika?

Teen minstens ’n miljoen jaar gelede (en waarskynlik nader aan twee miljoen) was daar reeds vroeë mense buite Afrika. Fossielgetuienis hiervoor kom van Suid-Europa, Rusland, die Midde-Ooste, Asië en Indonesië, maar nie van Noord- en Suid-Amerika of Australië nie. Mense noem dié verspreiding soms “Uit Afrika I”.

Daar is twee teorieë oor wat toe gebeur het. Die eerste is die “veelstreek”-hipotese, naamlik dat moderne mense oor die laaste miljoen jaar heen ontwikkel het uit hominiedbevolkings wat reeds in Eurasië geleef het. Genevloei was hiervoor verantwoordelik. Die veronderstelling is dat bevolkings wat geografies afgesonder geraak het, onafhanklik ontwikkel het. Elke nou en dan het van hulle wel met mekaar gepaar. Die gevolg was aparte bevolkings van moderne mense met afsonderlike fisieke kenmerke. Dit is waarom eenderse anatomiese eienskappe in spesifieke streke voorkom. Dit dui ook op diepliggende genetiese verdelings tussen “rasse”.

Die tweede is die “Uit Afrika”-hipotese. Hiervolgens het moderne mense hul oorsprong in Afrika gehad waar hulle tot so onlangs as 150 000 jaar gelede gewoon het, voor hulle uitgesprei het. Die genetiese en fossielgetuienis ondersteun hierdie siening. Die argument is dat afstammelinge van die eerste emigrante uit Afrika deur ’n tweede, meer onlangse verskuiwing van anatomies moderne mense vervang is. Dit het sowat 80 000 jaar gelede gebeur. Dié moderne mense het nie met die vroeëre bevolkings verbaster nie, maar hulle eerder verplaas en laat uitsterf. Die studie van mtDNS toon ’n ononderbroke ketting wat na ’n gemeenskaplike voorsaat in Afrika teruggevoer kan word. Tot dusver is daar min bewyse dat bevolkings wat nie van Afrika kom nie, ’n genetiese bydrae gemaak het.

Comments are closed.