
’n Illustrasie uit die reisdagboek van die ontdekker en VOC-amptenaar R.J. Gordon wat uit 1777 dateer. Dit toon hoofman Coba met ’n grenadierhelm van die VOC se keurtroepe op sy kop. Gordon het die helm as ’n vredesgebaar vir Coba gegee.
Die nedersetting het ’n veel groter vraag na die Khoi-Khoi se vee laat ontstaan. Nie net moes al hoe meer VOC-skepe van kos voorsien word nie, maar die garnisoen en die hospitaal ook. Die Kompanjie het vryburgers vroeg reeds naby die fort en verder die binneland in laat woon. Dié vryburgers het selfs groter druk op die Khoi-Khoi se kuddes geplaas, en boonop op hul weivelde en jaggebiede inbreuk gemaak.
Die Kompanjie het probeer om die enigste koper te wees, want hy wou pryse laag hou, maar die Khoi-Khoi het net skape, of siek beeste, probeer verkoop om te sorg dat hul kuddes lewenskragtig bly. Kommandeur Van Riebeeck was erg gefrustreerd omdat die Khoi-Khoi so traag handel gedryf het, en het dit oorweeg om die Khoi-Khoi naby die fort tot slaaf te maak en hul vee te steel. Die Kompanjie wou egter nie by Afrika se binneland betrokke raak nie; hy het verklaar die Khoi-Khoi is vrye mense wat nié verower of tot slaaf gemaak moes word nie. Van Riebeeck het heelwat van die tien jaar van sy bevel aan ingewikkelde diplomatieke maneuvers bestee om minstens sommige Khoi-Khoi se goedgesindheid te behou.




