In die loop van die 18de eeu het nuwe gemeenskappe op grond van ras, geloof, kultuur en ’n ongelyke toegang tot grond en mag begin ontwikkel. Feitlik niemand kon skryf nie, dus was daar geen skrywers of denkers wat ’n “nuwe” gemeenskap kon bedink en volgelinge tot ’n bepaalde strewe kon aanspoor nie. Die gemeenskap is deur die gesproke woord saamgesnoer.
Die Basters, Moslems en Afrikaners was enkele van dié gemeenskappe wat in die 18de eeu hul beslag in die kolonie begin kry het. Op die noord- en oosgrens het mense van gemengde afkoms langs en soms te midde van die grensburgers gewoon. Hulle is dikwels Basters genoem, met verwysing na hul oorsprong uit verhoudings tussen Europeërs, slawe en Khoi-Khoi. Die naam is ook gebruik vir swart mense wat Nederlands of Afrikaans kon praat, kon perdry en skiet.




