In 1779 het Willem Prinsloo, ’n boer van die omgewing van Bosberg naby die huidige Somerset-Oos, ’n Xhosa doodgeskiet. Die insident het sommer gou in oorlog met strooptogte en teenstrooptogte ontaard. Die distriksowerheid op Stellenbosch het ’n kommando onder Adriaan van Jaarsveld uitgeroep. Hulle het sowat 5 000 beeste teruggeneem en die Xhosa oor die sentrale deel van die oosgrens teruggedryf.
Van Jaarsveld en sy manne het hulle aan massamoord skuldig gemaak. Toe hulle ’n groep Dange teëkom, het Van Jaarsveld tabak na hulle gegooi en sy manne beveel om te skiet toe die Xhosa besig was om dit op te tel. Die Xhosa het dié insident geslagte lank onthou en Van Jaarsveld die bynaam “Rooi Kaptein” gegee.
Die middelpunt van interaksie tussen die grensboere en Xhosa het nou na die Zuurveld verskuif. Dié is eng as die gebied tussen die Vis- en Boesmansrivier omskryf, maar meer breedweg het dit die Sondagsrivier en Algoabaai ingesluit (sien Grensoorloë).
In 1786 het die regering ’n nuwe distrik met ’n drosdy op Graaff-Reinet geskep. Moritz Hermann Otto Woeke is as landdros aangestel. Hy het gou besef dat dit onmoontlik is om met net drie of vier bodes-polisiemanne wette in die distrik af te dwing. Wanhopig het hy in ’n verslag genoem dat tensy hy deur 50 of 60 soldate gesteun word, “die verrotting sal voortduur . . . en indien dit nie onderdruk word nie, sal dit tot só ’n mate toeneem dat almal willekeurig sal optree en elkeen sal doen net soos hy wil”.







