Die Xhosa En Die Boere ’n Nuwe Grensdistrik

Talle Xhosa het vreedsaam op die plase gewoon, maar daar was gedurig konflik tussen die Boere en die Xhosa in die Zuurveld. Die ongedurigheid is deur onderlinge konflikte vererger. Die Rharhabe-hoofman wou die Zuurveld-Xhosa onder sy gesag bring, en het die Boere se hulp ingeroep. Toe Rharhabe in 1780 sterf, het Ndlambe, die regent, steeds probeer om die hoofmanne van die Zuurveld-Xhosa met die hulp van die grenskoloniste te onderwerp.

In 1792 het Ndlambe in Barend Lindeque, ’n veldkornet, ’n bondgenoot gevind. Lindeque het ’n kommando opgeroep wat kortstondig met Ndlambe se manne saamgespan het om die Zuurveld-Xhosa te probeer verdryf, maar ’n teenaanval het ’n ramp meegebring. Ndlambe en sy manne het teruggeval, en die Zuurveld-boere moes die Zuurveld Xhosa, wat nie meer vir hul gewere bang was nie, trotseer.

Die Zuurveld-Xhosa het huise afgebrand, vee gesteel en veewagters doodgemaak en selfs tot in die Swellendam distrik deurgedring. Die koloniste het halsoorkop uit die suidoostelike deel van die kolonie gevlug. Net vier van die 120 plaashuise in die Zuurveld is nie afgebrand nie. Sowat 300 gesinne het al hul besittings verloor. Dit was die grootste ramp wat die Boere nog ooit getref het, en die ergste het nog voorgelê.

In 1793 het ’n kommando van burgers van Graaff-Reinet en Swellendam van die vee teruggeneem, maar talle was steeds in Xhosa-besit, en die Zuurveld-Xhosa het gebly waar hulle is. Die aanstelling van Honoratus Maynier as landdros van Graaff-Reinet in 1793 het sake vir talle Zuurveld-burgers net vererger. Hy is as ’n negrofiel uitgebeeld, maar was eerder ’n tipiese Kompanjiesbeampte, wat probleme met die Xhosa liewer wou vermy omdat oorlog duur en die uitslag onseker was.

Die Zuurveld: ’n Betwiste geskied

Comments are closed.