
’n Spotprent wat die inboekstelsel veroordeel. Let op die kennisgewings teen die muur. Dis onduidelik waarom die boer en sy handlanger as Romeine uitgebeeld word – miskien verwys dit na Romeinse slawerny.
Die Xhosa en die naderende boere het mekaar in die 1770’s wes van die Visrivier teëgekom. Tydens ’n besoek aan die grens in 1778 het goew. Joachim van Plettenberg ’n paar Gwali-hoofmanne gevra om die Vis- en Boesmansrivier as grens tussen die kolonie en die Xhosa se grondgebied te eerbiedig. Die goewerneur het nie begryp dat die hoofmanne geen reg gehad het om ’n ooreenkoms aan te gaan wat ander Xhosa-hoofmanne sou bind nie. Om sake te vererger, het die regering die hele lengte van die Visrivier in 1780 as die grens tussen die kolonie en Xhosa-gebiede verklaar. Die twee gemeenskappe kon nie sonder of met mekaar oor die weg kom nie, en is vasgevang in ’n digte web waaruit hulle hul feitlik nie kon loswikkel nie.
In die vroeë stadiums van die nedersetting in die Zuurveld het die burgers en Xhosa meestal vreedsaam saamgeleef – of dis minstens hoe die Xhosa dit later onthou het. In 1819 het ’n Xhosa-raadsman aan dié dae van kontak tussen wit en swart teruggedink: “Toe ons vaders en die vaders van die amabulu (Boere) in die Zuurveld begin woon het, het hulle in vrede saamgeleef. Hul troppe het op dieselfde heuwels gewei, en hul veewagters het dieselfde pype saam gerook.” Die raadsman het die latere botsings voor die deur van veestropery deur die Boere gelê, maar klaarblyklik was botsings oor weiveld feitlik onvermydelik namate die gebied digter beset geraak het.





