In 1813 het Andries Stockenstrom, ’n twintigjarige adjunk-landdros op die pas gestigte dorp Cradock, ’n groot uitdaging in die gesig gestaar. Vroeër die jaar het ’n Khoi-Khoiarbeider met die naam Booy ’n klag teen sy meester gelê. Dié meester was Freek Bezuidenhout, ’n woestaard. Booy het beweer sy meester het sy lone teruggehou en hom ernstig aangerand.
Bezuidenhout was een van talle ontevrede, betreklik arm koloniste in die afgeleë gebied van Bosberg, Bruintjieshoogte en Tarka. ’n Tekort aan grond was ’n groot bron van ontevredenheid, en die teenwoordigheid van Khoi-Khoi- en ander “gekleurde” troepe onder die bevel van wit offisiere was nog een. Stockenstrom het later opgemerk: “. . . die mense sê ‘die swart nasie word beskerm, maar nie die Christene nie’.”
Stockenstrom het mettertyd oor ’n tydperk van 25 jaar ’n merkwaardige loopbaan as grens-administrateur beleef. Hy was eerlik, dapper en onafhanklik. Hy het hom verbind tot die beginsels van streng orde, asook gelyke en onpartydige geregtigheid vir almal. Van meet af was die saak vir Stockenstrom ’n duidelike keuse tussen orde en beskawing aan die een kant, en anargie aan die ander.
Toe Bezuidenhout ’n dagvaarding verontagsaam, het die landdros ’n troep van twee Britse offisiere en twaalf Khoi-Khoi-soldate na sy huis gestuur. Daar was ’n kortstondige skermutseling, en Bezuidenhout is doodgeskiet. By sy begrafnis het sy ondersteuners ’n plan gesmee om te rebelleer.
Die rebelle het onbekookte planne gehad. Een het voorgestel dat hulle ’n ooreenkoms met Ngqika moes aangaan. In ruil vir die verdrywing van die Kaapse Regiment en alle amptenare wou hulle hom die Zuurveld aanbied: van sy kant moes hy rebelle toelaat om die vrugbare Katriviervallei in die Xhosa-gebied te beset. Burgers wat geweier het om aan te sluit, is met die dood gedreig. Hul gesinne en eiendom sou aan die Xhosa gegee word.
Stockenstrom het invloedryke burgers oorgehaal om die rebellie nie te steun nie. Oplaas was daar maar net 60 rebelle, en hulle het later sonder verset oorgegee. Vyf van die leiers is skuldig bevind en opgehang. Die meerderheid koloniste het die Britse heerskappy nou aanvaar. In 1816 het Stockenstrom verklaar: “Verreweg die meerderheid van die Boerebevolking is nie teen gelyke geregtigheid vir swart en wit gekant nie”. Hy was oortuig die kernprobleem is dat die regstelsel ontoereikend was. Al is nuwe distrikte ge skep, was die meeste plase nog steeds baie ver van die dorpe af, en daarom was dit vir baie meesters moeilik om by die landdros klagtes te lê.







