Teen 1650 was die Nederlanders die voorste handelaars op aarde, en die magtige Vereenigde Oostindische Compagnie (VOC) die grootste handelsonderneming ter wêreld. Sy tuiste, Amsterdam, was ’n enorme entrepot vir peper en speserye, suiker, tabak, hout en vervaardigde ware van orals op die aardbol. Die VOC se beleid en wette sou prosesse met ’n groot invloed op die koloniale samelewing aan die Kaap aan die gang sit.
Veral swartpeper, naeltjies, neutmuskaat, kaneel en foelie het die Nederlanders aan die einde van die 16de eeu oor die gevaarlike vaarwaters na die Verre-Ooste gelok. Dié speserye het van net ’n klompie lande gekom, onder meer die huidige Indië, Maleisië en Indonesië. Mense het kos met peper bewaar voordat ys daarvoor gebruik is. Dit was kilogram vir kilogram meer as goud werd. Teen die einde van die 17de eeu het die VOC jaarliks meer as 1,8 miljoen kilogram peper ingevoer – veel meer as enige ander produk. In die 18de eeu het suiker en koffi e van Java al hoe belangriker geword.







