
Die bekende portrette van Jan en Maria van Riebeeck is eintlik glad nie van die Van Riebeecks nie, maar van die Vermuyden-Kettinghs. Die gesig op ou Suid-Afrikaanse note is ook nie van Jan van Riebeeck nie, maar van Vermuyden. Hierdie ware portret van Van Riebeeck kom uit De Stichter deur E.C. Godée Molsbergen. Daar is geen beeltenis van Maria van Riebeeck nie. ‘‘Haar’’ standbeeld in Kaapstad is eintlik dié van die vrou van die voorsitter van die Nederlandse komitee wat gehelp het om die Van Riebeeck-fees van 1952 in Kaapstad te reël.
Die eerste Europese immigrante het intellektuele bagasie in hul koppe saamgebring wat veel belangriker as hul klere en ander besittings was. Die sterkste buite-invloede op die samelewing aan die Kaap was die Romeins-Hollandse regstelsel, die Gereformeerde godsdiens, vroeë kapitalisme en die wette en praktyke wat die VOC vir die bestuur van sy Oosterse kolonies geskep het.
Twee stelle heel verskillende invloede het die Kaap geraak. Een was Nederland se egalitêre neigings; die ander die “aristokratiese” of hiërargiese tendense in Nederland se Verre-Oosterse besittings. Toe die VOC die Kaap in 1652 stig, is dit onder die gesag van sowel die Kompanjie se direkteure in Amsterdam (die Here Sewentien) as die Raad van Indië in Batavia geplaas. Die Kaap is tot 1731 in wese uit Batavia regeer. Die regulasies, praktyke en houdings van Batavia het dit ook diep beïnvloed, want dié is saam gebring deur beamptes wat voor hul verplasing na die Kaap eers dáár gedien het.





