Mense In Knegskap ’n “Soort Kind Van Die Gesin”

Eienaars het dikwels hul slawe, veral die huisslawe, beheer deur hulle deel van hul uitgebreide gesin te maak. Geskiedskrywers noem dit paternalisme. Die huishouding of “gesin” was die enigste “tuiste” vir slawe wat van hul eie kultuur en naastes weggeruk is. Om as ’n deel van die “familie” beskou te word is as ’n powere maar tasbare troos aan die slaaf voorgehou.

Besoekers aan die Kaap in die 18de en 19de eeu het dié verskynsel al hoe meer raakgesien. In die laaste jare van die 18de eeu het lady Anne Barnard, wat pas van Brittanje gekom het,by geleentheid geskryf sy het getwyfel of sy haar gasvrou se slawevrou ’n halssnoer moet gee voordat sy geskenke aan die ware gesinslede uitdeel. Toe sy vra, lag die gasvrou hardop en sê: “Moet jou nie daaroor kwel nie – sy (die slawevrou) is in die huis gebore, en is ’n soort kind van die gesin – as ek die krale het, moet ek dit vir haar gee.”

Die frase “in dieselfde huis gebore” verwys dus na ’n slaaf se spesiale status in ’n gesin. Kaapse slawe-eienaars het baie moeite gedoen om slawe, veral vroulike slawe, “deel van die familie” te maak. Die gedagte van paternalisme sou verdag raak as sulke slawe aan buitestanders verkoop sou word. Die slawe van gestorwe slawebesitters is gewoonlik deur verwante geërf.

Paternalisme het nooit gelykheid met ander gesinslede behels nie. Selfs jong dogters kon volwasse huisslawe straf. Elke slaaf het die een of ander tyd besef – gewoonlik wanneer die jong meester of meesteres volwasse geword het – dat die slaaf in die eienaars se oë altyd ’n afhanklike kind sal wees en dié vernederende status nooit sal ontgroei nie. Ongeag hul ouderdom of status was alle Kaapse slawe altyd “jongens” of “meide” (jongmeisies).

Comments are closed.