
Slawe is feitlik elke week onder ’n groot boom op Kerkplein naby die Slawelosie in Kaapstad opgeveil. Tans wys ’n gedenkplaat waar dié plek was.
Die Kaap was feitlik van meet af ’n slawesamelewing. Slawe het nóg vryheid nóg status gehad, maar het ander se vryhede en status bepaal. Hulle was die kolonie se belangrikste arbeidsbron. In Kaapstad het die mans in die groentetuine gewerk, en as vakmanne; op dieplase het hulle op die landerye en in die wingerde gewerk. Die vroue was kokke, kinderoppassters en soogvrouens in die huise. Die kinders was speelmaats vir hul meester se kinders. Huisslawe het deel van die koloniste se “gesin” geword, en het die grondslag gelê vir die soort samelewing wat in die kolonie ontwikkel het.
Die meeste slawe was in die stedelike of halfstedelike gebiede, en Kaapstad was die beste mark vir slawe, wat feitlik elke week tydens gewilde veilings op Kerkplein verkoop is. Die veilings was onder ’n groot boom langs die Kompanjie se slawelosie agter die Gereformeerde kerk.

Die slaaf ‘‘Afrikaner’’, wat as Jonker Afrikaner bekend was. Die nasate van verbintenisse tussen Europeërs en slawe wat aan die Kaap gebore is, was die gesogste slawe. Die Britte het dié mense Afrikanders of Afrikaners genoem. Die burgers het ander name vir hulle gehad.
Tussen 1652 en 1808, toe die slawehandel beëindig is, is ongeveer 63 000 slawe ingevoer. Sowat 26,4% van die kolonie se slawe was van Afrika, 25,1% van Madagaskar, 25,9% van Indië en 22,7% van Indonesië.
Beamptes en burgers het geglo elke groep slawe is anders, en het vaardighede en karak ter aan die land van oorsprong toegeskryf. Hulle het kru rasse-en geografiese stereotipes voorgehou. Slawe van Bengale of die Koromandelkus het as goeie naaldwerksters bekend gestaan, en is hiervoor gebruik. Slawe van Mosambiek was kwansuis sag en geduldig, maar Maleiers is as verraderlik beskou, en geneig om amok te maak. ’n Kaaps-gebore halfbloed (die kind van ’n verhouding tussen ’n Europeër en ’n slaaf) was sterk in aanvraag. Die Britte het hulle Afrikanders genoem. ’n Kommentator sê: “Die Afrikandervroue was die meesteres se gunstelingslawe. Hulle het alles gereël en ordelik gehou, en is met alle waardevolle dinge vertrou – hulle was eerder metgeselle as slawe; die meesteres het egter selde, en die slaaf nooit, hul eie stand vergeet nie, en al was hulle in die privaat ook hóé gemeensaam, het die goeie orde in die teenwoordigheid van ander gegeld.”
Daar was vier groepe slawe: dié in diens van die Kompanjie, dié in besit van die Kompanjie se beamptes, dié in besit van die burgers in die kolonie (verreweg die meeste), en ’n vierde en baie klein groep slawe in besit van die vryswartes. Die Kaap se slawerny was meer as ’n eeu lank grootliks stedelik. Selfs so laat as 1767 het 40% van al die slawe in die kolonie in Kaapstad gewoon.







