’n Komplekse Nedersetting Vrye En Onvrye Immigrante

’n Onbelowende loopbaan het gewag vir Europeërs wat op die onderste range vir die VOC begin werk het. Die Kompanjie het sy rekrute vir vyf jaar gewerf. Die burgers van vrye Nederland het net uit nood matrose of soldate geword, want die daaglikse loon was vyf maal minder as dié van ’n polderwerker of turfsteker in Nederland. Die kos was sleg, die dissipline hard, en siektes volop. Talle het op die skepe gesterf. Sowat 15-20 persent van dié wat aan boord van ’n Kompanjieskip gestap het, het elke jaar tydens die uitwaartse vaart gesterf. ’n Kompanjiesloopbaan was werklik net vir dié sonder enige ander uitweg.

Tog was die Kompanjie se werknemers ondernemend genoeg om die risiko van werk in verre lande vir die vereiste vyf jaar te aanvaar. Sommige van die Duitsers wat Kaap toe gekom het, was handelslui wie se lewens (of andersins hul ouers s’n) ontwrig is deur die Dertigjarige Oorlog, wat in 1648 geëindig het. Hulle het die beste in hul nuwe tuisland aan die voet van Afrika gevaar. Die meeste ongetroude mans wat Kaap toe gekom het, was ongeletterde of halfgeletterde plattelanders wat as matrose of soldate vir die Kompanjie gewerk het.

Die eerste slaweskepe het in 1658 aangekom. Die Amersfoort het ’n Portugese slaweskip op pad na Brasilië gebuit – talle slawe het op pad na Kaapstad gesterf, maar 75 het aan wal gestap. Die Hasselt het 228 slawe van Angola gebring, en Van Riebeeck het hulle as aantreklik, fris en opgeruimd beskryf. In die tyd van die Kompanjie is ’n totaal van 65 000 slawe ingevoer.

Hoewel die hoë amptenare aan die Kaap die septer geswaai het, het dié twee groepe immigrante, die een vry en die ander nie, die nedersetting se karakter bepaal. Teen 1690 was daar 788 vryburgers en 381 slawe. ’n Eeu later was daar sowat 20 000 vryburgers en bykans 26 000 slawe. Die burgergetalle het weens ’n verstommende geboortesyfer aangewas, maar weens fisieke en sielkundige swaarkry het die slawe nie voortgeplant nie. Hul getalle moes deur volgehoue immigrasie aangevul word.

Die Kaap was van meet af ’n slawesamelewing, en nie een waar slawerny bloot een van verskeie soorte arbeid was nie. ’n Slawesamelewing is een waar alle instellings – die arbeidsmark, die ekonomie, die regstelsel, die gesin en kerk – van slawerny deurtrek is. Die model van meester en slaaf het die model vir alle ander bande geword.

Comments are closed.