’n Vestigingskolonie

Ekonomies en maatskaplik gesproke kon ’n mens die wit bewoners van die kolonie in drie afsonderlike groepe verdeel: dié wat aan die Kaap gewoon het (later Kaapstad genoem); die wyn- en koringboere van die plattelandse Wes-Kaap; en die grens-veeboere anderkant die eerste bergreekse.

Kaapstad was ’n veelrassige en veeltalige stad. ’n Kwart tot ’n derde van al die burgers het daar gewoon en die handel en ambagte bedryf. Die Kasteel, die Kompanjie se hoofkwartier, was die middelpunt. Talle tavernes en losieshuise met verblyf vir besoekers was hier. Die stad is as die sentrum van die kolonie se kultuur- en intellektuele lewe beskou, maar was eintlik maar agterlik. Daar was geen koerante of boekwinkels nie en die meeste mense het nie gelees nie. Daar was min openbare vermaak. Danspartye in die welvarendste private wonings, waar slawe musiek gemaak het, was gewild.

Kaapstad se natuurskoon is wyd en syd geloof, maar nie almal was met die dorp tevrede nie. In 1710 het Johanna Maria van Riebeeck, ’n kleindogter van die stigter, en vrou van die goewerneur-generaal van Nederlands-Indië, dit afgekraak: “Die goewerneur se woning lyk soos ’n doolhof, en die ander huise soos tronke. Die [Khoi-Khoi] is lelike, stinkende mense, en die Nederlanders se huise is onnet . . . die lewenswyse is vreemd. Die goewerneur is iemand met ’n taamlik hoflike elegansie, maar alles word in die [Khoi-Khoi-] styl gedoen. Nogtans is die kos beter as in Batavia, en die klimaat ook.”

Die plattelandse lewe

‘n Kolonie se argitektuur

Comments are closed.