Tye Verander

Kort nadat die Britse regering die Kaap in 1795 verower het, het die eerste behoorlike sensus bepaal daar is sowat 20 000 koloniste, 25 754 slawe en ongeveer 1 700 vryswartes. Die Khoi-Khoi en Basters is eers in 1820 getel, en toe was daar 25 975 van hulle. Teen 1800 was daar waarskynlik tussen 60 000 en 70 000 mense binne die kolonie se grense, sonder om die Xhosa en San in enkele van die grensdistrikte by te reken. In die binneland was daar op Stellenbosch, die enigste beduidende dorp, steeds minder as 50 huise.

Toe die Kompanjie se bewind in die Kaap in 1795 ineenstort, was dit die einde van die ou wêreld van statusgroepe: die amptenare, burgery en slawe – elk met sy eie stel regte, voorregte en verpligtinge, of regsonbevoegdhede en gebrek aan regte. Almal was nou Britse onderdane, ’n woord met ’n heel ander betekenis as die woord “burger”, veral omdat almal nou voor die reg gelyk beskou is. In wese was net die Europese koloniste egter nou voor die reg gelyk. Nietemin het die koloniste enige soort gelykstelling verwerp, byvoorbeeld wanneer ’n slaaf of afstammeling van ’n slaaf op dieselfde regte en voorregte aanspraak gemaak het.

Die Britte het sterker as die Kompanjie daarop aangedring dat die Khoi-Khoi ’n toevlug tot die howe moet kan neem en grond mag besit, maar in die praktyk het dié regte min beteken, want die meeste Khoi-Khoi was nie Christene nie, en kon dus nie in die hof ’n eed sweer nie. Sonder die eed het hul getuienis minder beteken. Boonop het feitlik geen Khoi-Khoi grond besit nie. Lord Charles Somerset, die derde goewerneur van die tweede Britse besetting, het gesê die Khoi-Khoi kan plase besit, maar in die praktyk het feitlik niemand grond gekry nie.

Selfs ná 1828, toe die Khoi-Khoi kragtens Ordonnansie 50 “bevry” is, het die Britte net aan aansoekers met genoeg geld grond toegeken, en feitlik geen Khoi-Khoi het dít gehad nie. Daar was net een suksesvolle aansoeker om ’n plaas in die oostelike distrikte. Daarom het burgers hulself steeds as meerderwaardige onderdane met spesiale regte en voorregte beskou.

Die einde van die slawehandel

’n Slawe-opstand

Comments are closed.