Die Strewe Na ’n Verdrag

The great dance of the Mbelebele regiment

Die groot dans van die Mbelebeleregiment, soos kapt. Allan Gardiner dit in 1835 gesien het. Dingane se manne het hom na die dansterrein vergesel. Elkeen het ’n tak met groen blare gedra en ’n buitenste kring gevorm terwyl die Siklebe-regiment die binnekring uitgemaak het. Dis moontlik dat Retief en sy manne voor hul dood ’n soortgelyke seremonie aanskou het.

Edgar Brookes en Colin Webb merk in hul geskiedenis van Natal op dat dié streek onmiddellik ná die Mfecane soos die paradys moes gelyk het. Daniël Bezuidenhout, ’n trekker, het genoem dat die geil gebied “wild en verlate” was.
Piet Retief het gedink die Boere en die Zulu kan naas mekaar woon, maar Francis Owen, ’n sendeling wat naby Dingane gewoon het, en taamlik baie eerstehandse ervaring van hom gehad het, het aan Retief gesê die koning sal die trekkers nooit grond gee nie.

Retief het gereken dis noodsaaklik dat die Zulu die Boere leer vertrou. Hy was van nature ’n waaghals, en was nou op die punt om die grootste waagstuk van sy lewe aan te pak. Owen het hom gewaarsku om nie met ’n kommando naby Dingane te gaan nie, maar Retief het dié raad in die wind geslaan. Na berig word het hy geantwoord: “Dit kos ’n Hollander, nie ’n Engelsman nie” om ’n swart man te verstaan.

Toe Retief en enkele manne Dingane in Oktober 1837 nader om ’n verdrag te onderteken, het die koning laat blyk dat hy dit sou oorweeg om die groot gebied tussen die Mzimvubu- en Thukelarivier af te staan, mits Retief vee terugkry wat Sekonyela, die Tlokwa-hoofman, van Dingane gesteel het.

Namate die onderhandelings gevorder het, het Retief foute gemaak wat sy vooruitsigte ondermyn het. Hy het Dingane vertel van die swaar straf wat die trekkers Mzilikazi toegedien het. Dingane se raadslede wat Retief na Sekonyela vergesel het, het opgelet met hoe min respek hy dié hoofman behandel. “Sal Dingane ook só behandel word?” wou hulle weet. Die antwoord was: “Ons sal Dingane net so behandel as hy ’n skelm blyk te wees.” Dit alles het Dingane erg bedreig laat voel. Vroeg in die 1830’s het Jacob Hlambamanzi, ’n tolk met ervaring van die Oos-Kaap, Dingane vertel hoe dinge waarskynlik gaan verloop: “Eers het die wit mense gekom en ’n deel van die grond gevat; toe het hulle meer geword en die ander verdring. Keer op keer het hulle meer grond en beeste gevat.” Volgens mondelinge tradisie van die Zulu het Shaka, toe hy vermoor is, vir Dingane gesê: “Jy maak my dood, want jy dink jy sal heers, maar die swaeltjies sal” – die wit mense. Hulle is swaeltjies genoem omdat hulle modderhuise gebou het.

Dingane was bang vir die gewapende trekkers wat na sy koninkryk op pad was nadat hulle die Ndebele vernietig het. Hy kon self nie nog gewere in die hande kry nie; Retief het geweier om Sekonyela se perde en gewere vir hom te gee. Die paar Engelse jagters en handelaars in Port Natal was geen bedreiging nie, maar die 1 000 Voortrekkerwaens wat teen die einde van 1837 in die Bo-Thukela-vallei versprei het, was wel. Retief het merkwaardige vertroue gehad dat ’n verdrag met Dingane sake op ’n manier tot albei se bevrediging sou oplos.

Stockenstrom het aan Retief gesê hy verstaan nie hoe die Voortrekkers as wittes in Afrika sou kon oorleef as hulle buite bereik van die Britse regering en sy stelsel vir reg en orde was nie, al was dié stelsel vir die huidige ook al hóé gebrekkig. Hy was verstom dat die trekkers oënskynlik die beskerming van Dingane en Mzilikazi, die twee grootste hoofmanne van die binneland, bó dié van die Britse regering verkies het.

Ná die verwoestende Sesde Grensoorlog het Stockenstrom ’n verdragstelsel (kyk kassie) voorgestel om geskille op te los eerder as die ou militêre oplossings. Hy was daarvan oortuig dat verdrae net sou werk as ’n sleutelbeginsel in ere gehou word: die erkenning  van die werklike besitters se reg op ’n gebied. Die erkenning van die mag en status van die inheemse hoofman en die behoud van sy staatsbestel moes hiermee saamgaan. Dié stelsel sou kon slaag mits die Britse regering bereid was om baie hulpbronne daaraan toe te wys en sy rug teen die Engelse handelaars, spekulante en soldate wat die Xhosa wou onteien, styf te maak.

’n Epog is aan die einde van die 1830’s vir die Kaapkolonie afgesluit. In 1836 het Stockenstrom die groot keuse voor Europese koloniste verwoord: “Daar moet óf uitwissing wees [hy bedoel die onteiening en verbrokkeling van Afrika-hoofmanskappe], óf versoening en geregtigheid: die middeweg is ondergang.”

Gebeure tussen die einde van 1834 en die einde van 1838 dui op presies hierdie middeweg wat Stockenstrom beskryf het. Daar was moord en verdelging op groot skaal – die Sesde Grensoorlog, die stryd tussen die Voortrekkers en die Ndebele, die moord op Retief en sowat sewentig ander mans in Dingane se woonplek, en die uitdelging van nog 500 van sy volgelinge by Weenen, asook die dood van ongeveer 3 000 Zulus by die Ncomerivier, later Bloedrivier genoem, waar Andries Pretorius ’n aanval afgeweer het. Laasgenoemde gebeure word in Deel Twee beskryf, want ons kan hulle net in die konteks van die Mfecane verstaan.

Dié is ook deur die “vergruising” en grootskaalse ontwrigting van mense gekenmerk. Toe die Voortrekkers in die binneland aankom, was Afrika-gemeenskappe juis besig om weer te herstel. Wit en swart sou ontdek dat hulle saam moes bestaan, want die een kon die ander nie oorweldig nie.

Stockenstrom se verdragstelsel

Comments are closed.