’n Groot Trek “ ’n Vreemde En Ontroerende Gesig”

“Die geskiedenis het selde so ’n vreemde en ontroerende gesig ervaar as dié van welgestelde boere, sommiges in die fleur van hul jeug, en sommiges reeds deur die gewig van jare kromgetrek, wat hul plase en opstalle verlaat, hul gesinne en al hul huisraad in ’n lomp ossewa laai, hul skape en beeste voor hulle uit jaag en na die verre, onbekende
binneland wegtrek.” Dis ’n beskrywing van wat as die Groot Trek bekend sou word in ’n biografie van Andrew Murray, wat in 1849 in Bloemfontein as die eerste Ned. Geref. predikant van ’n gemeente anderkant die Oranjerivier bevestig is.

Tussen 1835 en 1845 het talle groepe burgergesinne wat later Voortrekkers genoem is, asook hul knegte, die Kaapkolonie verlaat. Hulle het gemeng met trekboere wat die kolonie vroeër reeds verlaat en in die Transoranjegebied vertoef het voordat talle van hulle na Natal of Transvaal verder getrek het. Sowat 6 000 mense het geëmigreer in die eerste Voortrekkergolf, wat in 1840 geëindig het. Dit was sowat 20% van die wit mense in die oostelike distrikte, en ongeveer 10% van die kolonie se blanke bevolking. Teen 1845 het sowat 2 300 gesinne, of 15 000 burgers en hul gesinne, saam met nagenoeg 5 000 knegte, die kolonie verlaat.

Beamptes en kerkleiers het onmiddellik besef dat dit ’n geweldig belangrike gebeurtenis is. Dié met mag en invloed het die trek bykans eenparig veroordeel; sommiges was oor die uitwerking daarvan op plaaslike bevolkings bekommerd, en sommiges oor die trekkers se lot. Die vooraanstaande grenskolonis Gideon Joubert het verwag dat die trekkers sommer gou uitgewis sou word, en dat die oorlewendes gedwing sou word om terug te keer, of in
’n toestand “erger as dié van heidene” sou verval. Die sinode van die Ned. Geref. Kerk het in 1837 sy kommer uitgespreek oor die “vertrek na die woestyn, sonder ’n Moses of Aäron” van mense wat ’n “Kanaän” sonder enige “belofte of rigting” soek. De Zuid-Afrikaan, die enigste Nederlandse koerant, was ontsteld omdat die Voortrekkers hulle buite Britse gesag geplaas het.

Toe die trekkers die kolonie in die 1830’s begin verlaat, was daar intensiewe kontak tussen Europeërs en Afrikane langs ’n lyn van ongeveer 200 km lank naby die Visrivier. Anderkant dié lyn was Europeërs net op enkele plekke in kontak met nie-Europeërs. Naby Port Natal (tans Durban) het enkele Engelse handelaars en jagters onder ’n groot
inheemse bevolking gewoon.

Een van die grootste groeperings in die gebiede waarheen die emigrante op pad was, was Mzilikazi se Ndebele-koninkryk in die Maricovallei in wat later Wes-Transvaal sou word. Die Ndebele-leërs het die Zulu se gevegstaktiek en -tegnieke gebruik om groot dele van die latere Transvaal en Noord-Vrystaat te verwoes. Nog ’n hoofman, Moshoeshoe, wat vlugtelinge tot die Basotho-nasie saamgesnoer het, het op grond oos en was van die Cale donrivier gewoon. In Natal het die Mfecane die konsolidering van die Zuluryk behels. Hier het Dingane ná die sluipmoord op Shaka koning van die Zulu geword.

Die Voortrekkers: Nasionaliste of Materialiste?

Piet Retief se manifes

Comments are closed.