Tekorte aan grond en arbeid en gebrekkige veiligheid was groot bronne van ontevre denheid. Dit verklaar egter nie waarom nie net mense sonder grond die kolonie verlaat het nie, maar ook betreklik welgestelde boere wat hul plase goedkoop verkoop het. Om die redes vir die trek behoorlik te verstaan, moet ’n mens boere se griewe oor ’n gebrek aan verteenwoordiging in ag neem.
Hulle het sterk hieroor gevoel, want arbeiders was nou op gelyke voet met hulle. Die gevoelens spruit uit die dae van die VOC toe statusverskille nie streng op ras gegrond was nie. In die 19de eeu was rassisme as teorie onbekend onder die grensboere en Afrikaners in die algemeen. Stockenstrom het opgemerk: “Die teorie waarvolgens die swartes
reddelose barbare is wat eenvoudig uitgewis moet word, soos wolwe, het nie onder die Boere ontstaan nie.” Hy was oortuig dat sulke rassisme van Britse oorsprong was. Sir Benjamin D’Urban, die goewerneur van die Kaapkolonie, het inderdaad die frase “red delose barbare” vir die Xhosa geskep.
Dat daar geen verteenwoordigende liggaam was waar hulle hul klagtes kon lug nie, was een van die hoofredes waarom dit vir so baie mense onmoontlik gelyk het om in die kolonie aan te bly.
Die kolleges van landdroste en heemrade is in 1828 afgeskaf as deel van die hervorming van die landsadministrasie. Dié hervorming was belangrik vir die modernisering van die regering. Maar dit het tot gevolg gehad dat al die instellings wat die grensboere vertrou het, afgeskaf is juis toe hulle groot politieke en maatskaplike veranderinge moes leer hanteer. In wese het hulle nou feitlik geen verteenwoordiging gehad nie. Volgens die geskiedskrywer Eric Walker het die hervormings die kolonie se doeltreffendheid verskerp, ten koste van feitlik alle deelname aan die werking van die staat.
Stockenstrom het die verreikende hervormings as deel van ingrypende modernisering in beginsel gesteun. Hy het egter gereken dis belangrik om breë aanvaarding van die hervormings onder die burgers te kry. Hy het later genoem dit was ’n groot fout om die landdroste en heemrade af te skaf – die middele waardeur die regering die hele
gemeenskap kon bereik en beïnvloed. Hy skryf: “[Alle] vertroue tussen die Regering en die massas is op ’n einde, en talle van die euwels wat ons vordering vertraag en ons vrede versteur het, kan teruggevoer word na misverstande wat die uitvoerende gesag weens ’n gebrek aan kanale nie kon oplos nie.”
Toe Stockenstrom aanvoer dat hulle die kolonie wil verlaat om ’n wettelose bestaan te voer, het sommige van die voornemende Voortrekkers in die noordooste soos volg gereageer:
“Inteendeel, ons verlaat die Kolonie omdat ons nóg Regering nóg Wet ervaar – van die Regering weet ons niks, behalwe wanneer ons geld moet betaal, en die wet bereik ons nooit, behalwe om ons te beboet of andersins te straf, dikwels weens dade wat na ons wete nie verkeerd was nie. Ons Veldkornette kan ons nie help nie, want hulle is ewe veel in die duister as ons. Ons is soos verdwaalde skape.” Die burgers het gemarginaliseer en ontmagtig gevoel. ’n Amptenaar het hul gevoel ens só verwoord: “Nou het ons ’n Burgerlike Kommissaris om ons geld vir Rege ring en Opmeters te in, ’n Magistraat om ons te straf, ’n Vredesklerk om ons te vervolg en in die Tronk te gooi, maar geen Heemrade wat vir ons kan sê of iets reg of verkeerd is nie.”







