
Daar was sowat 50 Khoi-Khoisoldate in die Britse mag wat na die grens gestuur is. Hulle het ’n groot indruk op die grens-Khoi-Khoi gemaak. Hierdie prent is van ’n gewone soldaat van die Kaapse Korps, soos deur lady Anne Barnard geteken. In 1823 het kol. Henry Somerset bevelvoerende offi sier van hierdie Kaapse Regiment (of Kaapse Berede Skuts) geword en Xhosahoofman skappe ver van die grens af aangeval.
Die grensbotsings was nie net ’n stryd tussen wit en swart boere oor grond, arbeid en vee nie. Daar was ’n derde party: Britse militêre offisiere en saam met hulle Britse handelaars en spekulante wat hoofsaaklik in Grahamstad gevestig was. Hul mondstuk, die Grahamstown Journal, was ’n voorstander van koloniale uitbreiding tot in die Xhosagrondgebied en die volkome militêre onderwerping van die Xhosa, asook groter militêre besteding.
Die handelaars het groot wins in handel met gesmokkelde wapens en in grondspekulasie gesien. Die voorstanders van gebiedsuitbreiding het die aggressiewe aard van die Xhosa en hul skuld aan grensbotsings erg oordryf. In 1837 het goew. Napier die Grahamstown Journal en die handelaarsdrukgroep op die dorp “besonder luidrugtig teenoor die
[Xhosa-]nasie genoem”.
Die hooffiguur onder die Britse soldate aan die grens was die stormagtige en aggressiewe kol. Henry Somerset, lord Charles se seun. In 1823 het hy bevelvoerder geword van die Kaapse Regiment met Khoi-Khoi-soldate wat aan die grens gestasioneer was. Hy was aan die hoof van die talle patrollies en kommando’s teen die Xhosa wat weer in die
Verowerde Gebied ingesypel het. Hy het ook Xhosa-hoofmanskappe ver van die grens af aangeval. Dié ekspedisies het groot getalle vee weggevoer, en hulle is uitgedeel aan koloniste wat verliese gely het.
Vroeg in die 1830’s het Stockenstrom glad nie meer vertroue gehad in die patrollies en kommando’s wat snags gemarsjeer, met sonop aangeval, lukraak gevuur en die Xhosa gedurig bevrees gelaat het nie. Soms was daar elke week patrollies en kommando’s wat die hutte in woonplekke afgebrand, die vee gegryp en die inwoners verjaag het. Die meeste Xhosa wat daar gewoon het, het gevlug, ongeag of hulle skuldig of onskuldig was. Tyhali het op ’n slag gevra: “Gaan ek nooit vrede in my eie land hê nie? Gaan ek dag na dag só behandel word?”




