’n Onstabiele vrede is een wat die verloorders verbitter “sonder om hulle die vermoë te ontneem om wraak te neem, en sonder om ’n stelsel te vestig wat hulle in toom kan hou – en dan ook nie die moeite doen om dit te laat slaag nie”. Dit is die woorde van die geskiedskrywer van die Puniese Oorlog tussen Rome en Carthago in antieke tye. Só ’n
vrede was ook die kenmerk van die grensgebied tussen die koloniste en die Xhosa in die eerste vyftig jaar nadat die Britte die Kaap in 1806 in besit geneem het. Die Britse goewerneurs het gesukkel om ’n standvastige grensbeleid te skep, want hulle is deur te min geld gekortwiek, en deur die ingewikkeldheid van die probleem verwar. Dié inkonse kwentheid is deur ingryping deur die ryksregering vererger. In Andries Stockenstrom se woorde was die beleid “wisselvallige en teenstrydig”.
Saam met ’n gebrek aan grond het ’n gevoel van gedurige onsekerheid veroorsaak dat talle boere uit die kolonie weggetrek het. Dié beweging het as die Groot Trek bekend geword.
In die vroeë maande van 1812 het ’n koloniale mag die Xhosa oor die Visrivier verdryf, maar hulle geensins verslaan nie. Die krygsmag wat aan die Visrivier gestasioneer is, was te klein om Xhosa-strooptogte te stuit. Die koloniste het steeds in vrees geleef. In 1817 is daar bevind dat 90 van die 145 burgergesinne in die Zuurveld en omliggende wyke hul woning verlaat het, terwyl die res gereed was om te vlug.
Lord Charles Somerset, wat in 1814 goewerneur geword het, was hardkoppig, met geen begrip vir hoe ingewikkeld die grensprobleem is nie. Hy wou hê Xhosa-hoofmanne moet ingevolge ’n spoor- of vergeldingstelsel gesamentlike verantwoordelikheid vir dief stalle neem. Dit moes soos volg werk: ’n boer meld verliese by ’n militêre pos aan, en ’n
patrollie volg die spore na die eerste kraal, wat die gesteelde vee dan moes teruggee of ’n boete betaal. As die hoofman nie die skuldige was nie, moes hy dan ewe veel vee van die werklike diewe eis. Stockenstrom, wat op 22-jarige ouderdom in 1815 landdros van Graaff-Reinet geword het, moes probeer om die rampspoedige stelsel te laat werk. Sy invloed is verminder toe die Albanie- en Somerset-distrikte in 1820 gestig is, maar was steeds aansienlik.







