
Teen die 1840’s het Engelse modes, gedrag en openbare etiket in Kaapstad oorheers. Hierdie skildery, met die titel ‘‘’n Wandeling in die Kompanjiestuin op ’n Sondagmiddag’’, toon dié Engelse kleredrag baie duidelik.
Dit was maklik om die nedersetting aan die Kaap te vestig, want daar was min Khoi-Khoi, en hul tegnologie was nie gevorderd nie. Die feit dat Suid-Afrika se voedselplante en diere nie mak gemaak kan word nie, is een rede waarom die Kaapse Khoi-Khoi nie meer ontwikkel was nie. Ná 60 jaar van Europese nedersetting het pokke hulle feitlik uitgewis. Teen die 1840’s het hulle net nog op die Katriviernedersetting en ’n paar sendingstasies ’n mate van vryheid en outonomie geniet.
Die Bantoesprekendes weerskante van die Visrivier het so ’n demografiese ramp weens die koloniste se siektes vrygespring. Omdat hulle landbouers en herders was, kon hul samelewing veel groter weerstand teen Europese uitbreiding bied. Toe Britse leier skap en ander militêre hulpbronne egter na die grens gestuur is, het die meedoënlose onteiening van die Xhosa begin. Hulle kon nooit volkome verstrooi word nie, maar het oplaas geen lewensvatbare grondgebied gehad nie. Hulle is gou by die koloniale same lewing ingelyf, en hul tradisionele gemeenskappe het verbrokkel.
Ekonomies gesproke is die Kaap van die merkantilistiese beleid van die VOC om skep in ’n samelewing wat ten volle deel van die Britse ekonomiese stelsel geword het. Kapitalistiese ondernemings en materialistiese vordering was die kern van dié stelsel. Die koloniste het lank geglo dit is onmoontlik om koring en wyn sonder slawe te produseer.
Hulle was verkeerd. Ná slawerny het produksievlakke gou herstel. Wol het mettertyd die belangrikste uitvoerproduk geword.
Op kultuurvlak het die kolonie ’n karakter aangeneem wat nóg van Europa, nóg van Afrika, nóg van Asië was. Die staatsbestel en administrasie was Engels, en so ook die algemeen geldende kleremodes, gedrag en openbare etiket in Kaapstad. In dié stad het Hollanders die losieshuise bedryf. ’n Klein deftige stand het in uitmuntende Kaaps-Hollandse huise in die stad, en op wynplase in die Wes-Kaap gewoon. Die mense wat die herehuise gebou en die tuine, wingerde en koringlande bewerk het, was van Afrika en Asië. Die kenmerkendste disse is van die Ooste ingevoer.
In die primitiewe onderwysstelsel was Engels die voertaal, maar die Moslems het hul gelowiges in Arabies en Afrikaans onderrig. Die leraars van die Ned. Geref. Kerk het steeds in Nederlands gepreek, hoewel die meeste van hul lidmate Afrikaans beter magtig was. Aan die oosgrens het sendelinge nie net die Woord verkondig nie, maar ook die boodskap dat ’n mens Engels moet kan praat en Engelse klere moet dra om “beskaafd” te wees. Die verswakking van die Xhosa het die Christelike en Engelse invloed ook sterk laat uitbrei.
Die wetgewing wat tussen vryes en onvryes onderskei het, is teen 1838 geskrap. Slawerny is sonder groot omhaal beëindig, maar die instelling het steeds ’n donker skaduwee gewerp, veral wat inboek-arbeid en die ideologie van paternalisme betref. Daar was geen rassewetgewing meer nie, maar omdat slawerny en vryheid bykans twee eeue lank só nou met mekaar verweef was, het informele rasse-onderskeid bly voortleef. Die feit dat voormalige slawe geen grond gekry het nie, het beteken dat hulle steeds vir ’n baas moes bly werk om te oorleef. In 1841 het die regering die Wet op Here en Diensbodes aanvaar. Dit het werkgewers goed gepas, want kontrakbreuk was nou ’n strafbare misdryf. Die Kaapkolonie was een van die min plekke op aarde waar ’n groot aantal slaweeienaars geen seggenskap in die beëindiging van slawerny gehad het nie, omdat daar geen wetgewende vergadering was nie. Gevolglik was daar geen behoorlike debat oor slawerny en vryheid nie. Die twee wit gemeenskappe se gemeenskaplike aandrang op ’n koloniale vergadering het hulle nader aan mekaar gebring. Omdat die Ryksregering geen kleuronderskeid erken het nie, kon die aandrang op ’n koloniale vergadering nie in rasseterme uitgedruk word nie.
Toe verteenwoordigende bestuur in 1853 ingestel is, was die amptelike bevolkingsyfer van die kolonie reeds oor die kwart miljoen. Die ekonomie het begin om te diversifieer. Teen die vroeë 1860’s was ’n moderne onderwysstelsel vir die koloniste se kinders reeds in wording. Verskeie bekende skole is gestig, soos die Diocesan College (Biskoppe) in Kaapstad in 1849, St. Andrews (Grahamstad) in 1855, die Grey Institute (Port Elizabeth) in 1856 en die Stellenbosse Gimnasium in 1866. Daar was ook talryke sendingskole wat onderwys gebied het aan gekleurde en swart kinders. Dié skole het ook wit kinders opgeneem. Daar was ’n bloeiende perswese, wat koerante in sowel Engels as Nederlands uitgegee het.
Soos in die volgende deel sal blyk, het dié kolonie – wat ná 1795 wetlik toenemend nierassig, liberaal en egalitêr geword het – die Griekwas, koloniste en setlaars voortgebring wat die prosesse van militêre verowering, onteiening en onderwerping buite die kolonie se grense aan die gang sou sit.




