
David Arnot, regsverteenwoordiger van die Griekwa-hoofman Nicolaas Waterboer, het namens die Griekwas suksesvol aanspraak gemaak op die diamantvelde. Dit het later geblyk dat die Griekwas slegs as pionne deur die Britte gebruik is omdat die Britte geen wettige aansprake van hul eie gehad het nie. Daar is gesê dat Arnot self van Griekwaafkoms was.

Labotsibeni (staande, middel) het as koningin regentes van Swaziland aan bewind gekom toe koning Ngwane V in Desember 1899 sterf. Sy het namens Nkhotfotjeni, die vier maande oue seun en troonopvolger van die gewese koning, waargeneem. Labotsibeni, algemeen bekend as Gwamile, het groot respek onder haar mense afgedwing. Hulle het na haar verwys as die Ndlovukazi, of “olifantkoei”. Onder haar leierskap het Swaziland neutraal gebly in die Suid-Afrikaanse Oorlog. In 1900, onwillig om onder Boere-bewind te val, het sy Britse beskerming vir haar koninkryk gesoek. Dit is in Desember 1906 toegestaan, toe die koninkryk onder die Britse hoë kommissaris vir Suid-Afrika geplaas is. Sy het in Desember 1921 afgesien van die regentskap toe Nkhotfotjeni, toe mondig, die Swazi-troon as koning bestyg het, en die naam Sobhuza II aangeneem het.
Die diamant wat die Jacobs-kinders in 1867 suid van die Oranjerivier naby die huidige Hopetown opgetel het, was die eerste aanduiding van Suid-Afrika se geweldige minerale rykdom. Die nuus het gou versprei, en teen 1870 was meer as 10 000 delwers van alle kleure en nasies op die Vaalrivier se walle aan’t soek na die kosbare klippies. Die rykdom in die rivier was maar gering in vergelyking met die rykdom onder die grond. Die diamante op die broers De Beer se plaas was die oortjies van ’n seekoei wat gou Kimberley se “Groot Gat” sou word.
Aan wie het dié diamante behoort? Die antwoord was oënskynlik klinkklaar. Die De Beers was Vrystaters, en die diamantveld – net 160 km van Bloemfontein af – was tussen die riviere wat die Vrystaat se natuurlike grense afgebaken het. Groot-Brittanje en die Kaapkolonie het geen teenwoordigheid daar gehad nie en dus ook geen aanspraak nie. Engelse belange het hulle daarom onder valse voorwendsel agter die taamlik twyfelagtige aansprake van Nicolaas Waterboer, die hoof van Griekwastad talle kilometers daarvandaan, geskaar. Die klug is aangevoor deur ’n slim prokureur met die naam David Arnot, self byna ’n Griekwa. Die ware besluite is egter agter die skerms geneem, en toe die luitenant-goewerneur van Natal as bemiddelaar aangestel word, was die uitslag verseker. Die Keate-uitspraak van 1871 het Waterboer se aanspraak bevestig.




