
Binne drie weke van sy aankoms het sir Harry Smith die Kaapkolonie verdubbel deur die grens tot by die Oranjerivier uit te brei. Binne drie maande het hy die hele Vrystaat bygevoeg.
As ’n mens van vandag se demokratiese, nie-rassige Suid-Afrika na die 19de eeu terugkyk, lyk dit maklik soos ’n lang, bloedige tyd van ontvreemding waarin niemand deesdae juis meer sou belang stel nie. Die destydse Kaapkolonie was egter nie ’n monolitiese struktuur nie, maar eerder ’n tweekoppige monster. As albei koppe in dieselfde rigting gekyk het, was die kolonie sterk, maar hy is ge teister deur interne teenstrydighede waarvan ons vandag nog die gevolge dra. Dit is veral duidelik in die verskille tussen die provinsies en in die oorsprong van mo derne Afrika-nasionalisme,
veral in die Oos-Kaap.
Voorheen het historici die geskiedenis van die Kaapkolonie rondom historiese figure geskryf – helde teen skurke, dapper koloniste teenoor bemoeisieke sen delinge of edele voorstanders van die sending. Wie die helde was, het daarvan afgehang of die betrokke geskiedskrywer konserwatief of liberaal was. Ander wit geskiedskrywers het met teorieë oor die “imperiale faktor” vorendag gekom. Hiervolgens sou imperialiste in Londen en die koloniste in Suid-Afrika heelte mal verskillende beskouings gehad het. Daarenteen het swart geskiedskrywers min verskil tussen die onderskeie soorte imperialisme, rassisme en kolonialisme raakgesien.
Daar was egter verskille – en hulle was beduidend. Dit was nie die gevolg van per soonlikhede of ideologieë of standverskille tussen aristokrate en handelaars nie. Dit was omdat Suid-Afrika nie ’n setlaarkolonie soos Australië of Kanada was nie, en ook nie ’n handelskolonie soos die Goudkus of Singapoer nie. Suid-Afrika was eerder iets van albei. Boere wou die inheemse gemeenskappe se grond en arbeid toe-eien, maar handelaars en sendelinge wou meer produktiwiteit en koopkrag hê. Baie dinge het uit hierdie verskil voortgevloei.
Een van die groot paradokse van die Suid-Afrikaanse geskiedenis is dat die ou Kaapkolonie, waar die proses van onteiening en onderwerping begin het, self ’n vesting van gelykheid gebly het. Dit is in die nominaal nie-rassige Kaapse Grondwet van 1853 vervat, en word gewoonlik in geskiedenisboeke Kaapse liberalisme genoem. Dié paradoks is selfs verrassender as ’n mens in gedagte hou dat die liberale grondwet kom uit die tyd toe sir Harry Smith, wat sterk pro-kolonis was, twee desperate grensoorloë gevoer het en polities oorheers is deur grondhonger Oos-Kaapse setlaars onder leiding van die koerantredakteur Robert Godlonton. Om te verstaan hoe dit gebeur het, moet ’n mens twee sleutelgebeure van die middel van die 19de eeu, die Anti-Bandietebeweging van 1849 en die Katrivierrebellie
van 1850, deeglik bestudeer.
Die Anti-Bandietebeweging: Suid-Afrika se eerste massaprotes




