In teenstelling met die terugslae wat die Britse Setlaars in die Kaapkolonie ervaar het, het hulle in die Vrystaat en Natal groot vordering gemaak. Die geskiedenis van Suid-Afrika in dié tyd bewys dat die pen as instrument vir die verkryging van grondgebied inderdaad magtiger as die swaard is. Daar was ’n beperking op hoeveel grond ’n boer kon bewerk, maar oënskynlik geen perk op hoeveel grond imperiale maghebbers onder vriende met die regte bande kon uitdeel nie. Die setlaars was gefrustreer met die hardnekkige weerstand van die Xhosa na die ooste en het hul aandag dus eerder op skynbaar makliker buit elders gevestig.







