
Dr. W.B. Rubusana (1858-1936), predikant, koerantredakteur en die enigste swart man wat tot enige van die parlementêre strukture van die ou bedeling verkies is (hy was Lid van die Provinsiale Raad vir Thembuland, 1910-1914). Rubusana het ’n leidende rol in die stigting van die ANC gespeel, maar sy invloed is ondermyn deur sy politieke wedywering met J.T. Jabavu.
King William’s Town was die ekonomiese middelpunt vir die Oos-Kaapse kleinboerdery. Dit was op drie na die grootste dorp in die ou Kaapkolonie. Dit was veel groter as die hawestad Oos-Londen en vir sy welvaart feitlik geheel en al van kleinboere afhanklik. King William’s Town was ook ’n sentrum vir die sending en talle vooraanstaande wit handelaars en professionele lui het sterk bande met die Skotse sendelinge op nabygeleë Alice gehad. Hul simpatie het by die ontluikende swart kleinboerstand gelê, iets wat hulle duidelik van die wit boeregemeenskap onderskei het. Dit spreek uit die beroemde geval van eerw. John Davidson Don, ’n Presbiteriaanse leraar wat in 1885 deur die Kaapse owerhede vervolg is toe hy teen die moord op ’n swart arbeider beswaar gemaak het.
Die liberale element het hulle met die ontluikende swart elite vereenselwig. In verkiesings vir die Kaapse koloniale Parlement het swart kiesers vir die “vriende van die inboorlinge” gestem. Omdat die stemreg kleurblind was, het swartes in ses Oos-Kaapse setels 40% van die kiesers uitgemaak, en in altesaam 22 setels meer as 20% van die kiesers.
Kaapse politici het swart agente gebruik om swart kiesers te mobiliseer. In 1884 het die sakemanne Richard Rose-Innes en James Weir van King William’s Town ’n jong swart intellektueel met die naam John Tengu Jabavu gesteun. Gefrustreerd deur die sensuur van die sendelinge by Lovedale, wou hy sy eie koerant stig. Dit was Imvo Zabantsundu, die eerste koerant met ’n swart eienaar en redakteur in enige Afrika-taal in Suid-Afrika. Jabavu was nie die eerste swart politieke leier in Suid-Afrika nie – dié eer kom eerw Simon Sihlali van Cala toe. Hy is tot president van die eerste swart politieke party, Imbumba yaManyama (in 1882 in Port Elizabeth gestig), verkies. Maar dit was Jabavu wat die opkomende swart elite ’n stem, ’n platform en ’n rolmodel gegee het. Organisasies met die naam Iliso Lomzi (“die Oog van die Nasie”) het in talle kleiner dorpe in die Oos-Kaap ontstaan, en in 1887 het hulle die “Unie van Inheemse Waaksaamheidsverenigings” (Imbumba Yeliliso Lomzi Ontsundu) gestig. Dit was ’n regstreekse voorsaat van die African National Congress.
Tussen 1882 en 1886 het die aantal swart kiesers in ses sleutelsetels in die Oos-Kaap sesvoudig toegeneem. Dit wou voorkom of swartes weldra hul stemkrag sou gebruik om die “vriende van die inboorlinge” te systap en swart verteenwoordigers tot die Parlement te verkies.
Regstreekse Afrika-verteenwoordiging in die wetgewer was egter nie iets wat die opstellers van die liberale Kaapse grondwet ooit beplan het nie. Hulle wou swartes en gekleurdes wat kwalifiseer, in die stelsel opneem, maar nie vir swart leiers die geleentheid skep om die stelsel in die Parlement uit te daag nie.
Wit boere het ook begin mobiliseer, en in 1880 is Suid-Afrika se eerste formele politieke party, die Afrikanerbond, gestig om wit belange te beskerm. Die bond het sy visier sommer gou op die liberale stemreg ingestel. Kragtens die Wet op die Registrasie van Parlementêre Kiesers (1887) en die Stemreg- en Verkiesingswet (1892) is stemregkwalifikasies moeiliker gemaak. Hoe vinniger swartes vir die stemreg gekwalifiseer het, hoe vinniger het die koloniale Parlement die doelpale verskuif.
Wit politieke faksies – een onder leiding van Cecil Rhodes en die ander die “vriende van die inboorlinge” van ouds – het etniese spanning uitgebuit en so die swart stem verdeel. Die een faksie het Jabavu aangehang, en die ander dr. W.B. Rubusana, ’n kerkleier wat later ’n koerantredakteur geword het. Swart politici het te veel aandag aan hul eie struwelinge begin gee en nie ’n gesamentlike front voorgehou nie. Die een wit kabinet in Kaapstad na die ander kon dus enige vordering wat swart mense onder die Kaapse liberalisme gemaak het, omkeer. Hulle kon op politieke vlak geen samehangende ideologie skep nie, en wou gedurig hê dat die koningin swart Suid-Afrikaners van onderdrukking deur die setlaars red.
Eers nadat die ryksregering in 1910 sy steun aan ’n verenigde Suid-Afrika met ’n rassistiese grondwet toegesê het, het swart leiers begin om ’n nuwe organisasie en ’n nuwe benadering te oorweeg.




