Die Wortels Van Segregasie

Gedurende die 1850’s was die term “Suid-Afrika” bloot die vergestalting van ’n gebied, ontdaan van enige eenheid. Groot dele van die oostelike en noordelike gebiede was slegs onder twyfelagtige wit beheer. Party wit politici het teen verdere uitbreiding beswaar gemaak. Die samelewing wat tussen 1850 en 1910 vorm aangeneem het, was uniek in die wêreld van Europese kolonisering. Dit was nóg ’n selfonderhoudende, wesenlik wit samelewing soos Australië, nóg ’n Indië waar Europeërs ’n beperkte rol as heersers, handelaars en sendelinge gespeel het. Suid-Afrika was iets tussen dié twee: Wittes het stelselmatig begin oorheers, maar afhanklik gebly van die swartes se bydrae as arbeiders en deelboere.

Suid-Afrika was ook in ’n ander opsig uniek. Dit was een van die baie min Europese koloniale vestigings waarin die regerende rasseminderheid etnies verdeeld was. Die verdeling was tussen die Nederlandse en Engelse ‘‘rasse’’, soos die gemeenskappe destyds genoem is. Hulle was bereid om hul politieke wedywering op te skort slegs wanneer dit wit heerskappy self op die spel geplaas het. Dit was veral in die Kaapkolonie die geval, waar die Afrikaners byna drie teen een in die meerderheid teenoor die Engelse was.

Die inlywing van groot groepe swartes het stuksgewys plaasgevind. Tot die 1880’s het die burgers in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) slegs die suidelike helfte doeltreffend beheer. In Natal het die setlaars ’n klein minderheid teenoor die groot meerderheid swartes gevorm. Wit beheer oor die hele Natal is eers teen die einde van die 19de eeu gevestig. Zululand is in 1897 daarby ingelyf.

In 1865 het die Kaapkolonie Brits-Kaffraria (die toekomstige Ciskei) ingelyf, en in 1879 het hy Fingoland en Griekwaland-Oos geannekseer. In 1885 is Gcalekaland en Thembuland ingelyf, en in 1894 Mpondoland. Teen 1891 het die wit bevolking wat in 1865 ongeveer 181 000 getel het, tot 376 000 verdubbel, terwyl die swartes binne die koloniale grense vyfvoudig van 314 000 tot 1 480 000 toegeneem het.

In die skep van die beleid wat later as segregasie sou bekend staan, sien ’n mens die invloed van die reservate wat Theophilus Shepstone in Natal begin het. Ook die voorbeelde wat gestel is op die myndorp Kimberley, wat in die laat 1860’s ontstaan het, het die beleid beïnvloed. Die Kaap het die idee van sir George Grey uit die 1850’s laat vaar, naamlik om swart mense in die Europese kultuur en instellings te assimileer. Die oortuiging het al hoe meer posgevat dat onderhorige volkere volgens hul eie gebruike geregeer moes word pleks daarvan om hulle in die Westerse kultuur op te neem. In 1887 en 1892 is die liberale grondwet ’n groot slag toegedien toe tradisionele Afrikane deur wetgewing van die stemproses uitgesluit en die eiendomsvereistes vir stemreg verhoog is.

Cecil John Rhodes, wat in 1890 eerste minister geword het, het van ’n Suid-Afrikaanse staat onder die Britse vlag gedroom (kyk kassie). Aangesien swart getalle die wittes dan met ses teen een, of selfs meer, sou oortref, was hy op soek na ’n rassebeleid wat sou verseker dat die wittes die oorheersende ras bly. Ná beraadslaging met J.H. Hofmeyr, die leier van die Afrikaner Bond, het hy hom beywer vir wat hy later “’n Naturellewet vir Afrika” sou noem, wat oral in Suid-Afrika en op die res van die subkontinent toegepas sou kon word. Dit was die agtergrond vir die Glen Grey-wet van 1894 (see Die Glen Grey-Eksperiment).

Teen die einde van die eeu het ’n veel groter aantal swart mense tussen die reservate begin rondbeweeg, maar daar was ook toenemende getalle wat permanent rondom die dorpe en stede begin woon het. In 1899 het W.P. Schreiner, eerste minister van die Kaap, gesê dat dit die beste sou wees om sulke groepe swartes in kampongs saam te voeg. Aan die einde van hul dienstermyn moes hulle ‘‘teruggaan na die plek waar hulle vandaan gekom het – na die naturellegebiede, waar hulle eintlik hul tuiste behoort te vind’’. Amptenare het ’n uitbreking van builepes in die grootste stede aangegryp as ’n rede om swart mense ’n ent weg in lokasies te huisves. Die gedagte om die wit stad van die swart lokasies af te skei, het begin posvat. Tussen 1902 en 1904 het stede oor Suid-Afrika heen swart mense met wetgewing verplig om in sulke gesegregeerde lokasies te gaan woon.

Die Kaapse liberale tradisie, hoewel verwater, het steeds die reg voorgestaan van alle mense om ongeag hul kleur eiendom te besit. Die stemreg is wesenlik vir verwesterste mense voorbehou. Gedurende die 1890’s het die aantal bruin kiesers op die kieserslys van ongeveer 5 000 tot 13 900 toegeneem. Partye het aktief om hul stem meegeding. Bruin mense het die geleenthede gebruik wat daar aan hulle vir onderwys en nywerheidsoplei ding gebied is en teen die einde van die eeu het hulle minstens die helfte van die ambagte in Kaapstad en die hoofdorpe van die Wes-Kaap oorheers.

En tog, soos die liberale Kaapse politikus J.W. Sauer opgemerk het, is ‘‘politieke gelykheid hoegenaamd nie sosiale gelykheid nie’’. Selfs in Kaapstad – wat ras betref die vloeibaarste van al die dorpe en stede – was integrasie volgens Vivian Bickford-Smith ’n verskynsel slegs onder die laer klasse. Selfs waar respektabele bruin mense vir wit kon deurgaan, was witwees onlosmaaklik met sosiale en politieke heerskappy verstrengel.

Die Nederduitse Gereformeerde, Metodiste- en Wesleyaanse Kerk, en nie-sektariese staatskole, was in feite gesegregeer. Eersteklas spoorwegwaens, openbare badgeriewe, tafels in hoteleetkamers en bespreekte sitplekke in teaters was wesenlik slegs vir wittes bedoel. Sport was grotendeels gesegregeer. ’n Verslaggewer van die SkotseDundee Advertiser het in 1894 geskryf dat hoewel bruines deur die reg as gelyk beskou is, daar ’n ‘‘streep’’ tussen hulle en die wittes is, ‘‘byna so onwrikbaar getrek asof hulle ’n laer klas van wesens was’’. Die Engelse kolonie van Natal het daarop aanspraak gemaak dat hul stemreg nie op ras gebaseer was nie, maar in 1864 en 1865 het die Wetgewend Raad die swart stem prakties verwyder. In 1904 was slegs twee uit ’n bevolking van ’n miljoen swart mense gekwalifiseerd om te stem. In Pietermaritzburg is die heftigste toesprake gemaak om Shepstone se lokasiestelsel af te kraak. Die kiesers wou wetgewing hê wat, soos Alan Hattersley dit gestel het, daarop gemik was om ‘‘die barbaarse onderdane van hul ledige, parmantige en onbeheerbare heidense gewoontes op te hef na dié van ’n standvastige, vlytige, nederige en morele ingesteldheid’’.

In die twee Boererepublieke is die stemreg vir alle mense wat nie wit was nie, uit die staanspoor uitgesluit. Binne die grense van die Oranje-Vrystaat het die republiek drie klein, geïsoleerde reservate vir swartes opsy gesit, wat altesame 74 000 morg, of minder as 1% van die grond, beslaan het. Dit het geen voorsiening vir Afrikagebruike gemaak nie en geweier om die stamwette of tradisionele huwelike eie aan Afrika te erken. Alle siviele en strafregtelike geskille het onder die regspraak van die Romeins-Hollandse reg geval, ongeag die ras of status van die prosedeerders. Maar die Vrystaatse owerhede het ook swart ‘‘blok-manne’’ ingestel om te help om die Waaihoek-woonbuurt by Bloemfontein te bestuur. John Tengo Jabavu het goedkeurend oor dié stelsel geskryf en gemeld dat Waaihoek sy eie ‘‘stadsaal en ’n eie raad het bestaande uit naturelle, met ’n burgemeester aan die hoof’’. In 1896 het swart inwoners ’n versoekskrif tot die Bloemfonteinse munisipaliteit gerig dat die paswette minder streng toegepas word, en om teen die aanmatigende houding van die polisie beswaar te maak.

Die ZAR het die president as opperhoof oor al die inheemse gemeenskappe aangewys. Hy moes die swart tradisionele reg in alle swart gebiede handhaaf, maar in elkeen wit amptenare as naturellekommissarisse aanstel. Die Londense Konvensie van 1884 het bepaal dat die ZAR ’n ‘‘Lokasieskommissie’’ moet aanstel om reservate vir elke etniese groep af te baken. Maar daar is min bykomende grond vir lokasies opsy gesit en vir party groepe is geen voorsiening gemaak nie.

Die gewone ZAR-burgers was sterk gekant teen reservate, of lokasies soos dit daar bekend gestaan het, maar Paul Kruger het in 1893 geredeneer dat dit nodig is om veral vir kleiner swart groepe grond opsy te sit sodat hulle nie verdruk sou voel nie. ‘‘Is dit billik of Christelik om hulle van die grond af te verdryf?’’ het hy gevra. Hierteenoor was daar die onversadigbare drang na grond onder sy kiesers. Daar word geskat dat tussen ’n vyfde en ’n kwart van die swartes in die ZAR teen 1900 in lokasies in die landelike gebiede gewoon het. Swart mense kon grond elders koop, maar slegs deur derde partye soos sendelinge, wat die grond vir hulle geregistreer het in ’n trust wat deur die sendelinge bestuur is.

’n Swart Suid-Afrika

‘n Visie van Ras en Ryk

Comments are closed.