Ekonomiese Geleenthede

Black sharecroppers plouging their fields

Swart deelsaaiers ploeg hul landerye. Kleinboere wat hul gesinne as bron van arbeid kon gebruik, het die landbou-uitset in die oostelike dele van Suid-Afrika in die tweede helfte van die 19de eeu oorheers. In 1904 het ’n ingeligte waarnemer opgemerk dat die tradisionele Afrika-boer “die beste veelsydige bewerker van grond in Suid- Afrika” is. Swart boere in Basoetoland (tans Lesotho) en die Oranje-Vrystaat het met geesdrif gereageer op die groot mark vir koring, mielies en groente wat op die diamantvelde ontstaan het. Hulle kon rondtrek en die beste aanbiedinge vir deelsaaiery van plaaseienaars aanvaar. Reeds in die 1890’s het ’n groep Oos-Vrystaatse boere egter geëis dat die Volksraad grootskeepse graanverbouing deur swartes moet verbied, omdat wit boere nie met hulle kon meeding nie. Daar was nog geen tekort aan grond nie, want slegs klein stukkies van die uitgestrekte plase in die republieke is vir akkerbou gebruik. Inligting wat die Transvaalse Arbeidskommissie in 1903 ingewin het, het daarop gedui dat selde meer as 100 acre (sowat 40 ha) van ’n plaas deur een eienaar vir die verbouing van gewasse ontwikkel is.

Britse immigrante het die meeste van die nuwe geleenthede wat in Suid-Afrika beskikbaar geraak het, opgeraap. In die dorpe en stede het hulle die handelaars en ambagsmanne geword. Saam met Jode uit Europa het hulle die handel met die boere in die binneland oorgeneem, en met die Xhosa-kleinboere aan die grens. Die Engelse was die eerste wat grootskaals met grond begin spekuleer het. Gedurende die 1830’s het hulle ’n groot persentasie uitgemaak van diegene wat in die ooste van die Kaapkolonie met wolskape begin boer het, en hulle het invoer- en uitvoerfirmas in Port Elizabeth en Kaapstad gestig.

Op die plattelandse dorpe het Engelssprekendes al die belangrike betrekkings beklee. Hulle was die ingenieurs wat die paaie, brûe en spoorlyne gebou en die diepvlak-mynskagte gesink het, en hulle was die entrepreneurs wat gesofistikeerde nywerheids- en finansiële maatskappye gestig het. Joodse Suid-Afrikaners het ’n groot rol gespeel in die uitbreiding van die handel in Suid-Afrika. Adolph Mosenthal het in 1846 uit Duitsland aangeland en spoedig ’n familiesaak gestig wat een van die grootste beleggers in die diamantbedryf geword het. In die ZAR het Sammy Marks ’n spesiale verhouding met Kruger se regering gevestig.

Landbou het ’n heenkome vir die oorgrote meerderheid van die Afrikaners gebied. Sedert die laaste dekades van die 19de eeu was daar in die Wes-Kaap ’n gestadige toename in die aanvraag na koring en suiwelprodukte, met die uitvoer van vrugte as ’n belowende moontlikheid. Die wynboerdery, wat in die 1880’s swaar deur filloksera getref is en tot 1910 gestagneer het, het in die eerste twee dekades ná Uniewording herleef. In die middelland van die Oos-Kaap en Karoo het die meer suksesvolle Afrikaanse en Engelse boere in die toename van die woluitvoer gedeel, wat van £4 miljoen in 1904 tot £20 miljoen in 1919 gegroei het.

Maar minder as ’n vyfde van Suid-Afrika bestaan uit bewerkbare grond. Groot dele is ’n halfwoestyn met gereelde droogtes, en ander gebiede kry genoeg reën, maar die bodem is uiters ongelyk. Veeboerdery het as ’n leefwyse en bestaansmiddel ontwikkel en eers in die 20ste eeu in ’n kommersiële onderneming verander.

’n Verkwistende uitbuiting van landbouhulpbronne het tot ’n krisis in die veeboerdery bygedra. Oorbeweiding tesame met veldbrande het die natuurlike plantegroei vernietig, terwyl die bogrond in donderstorms weggespoel het. As weiveld uitgeput geraak het, was boere gewoond daaraan om na nuwe weiding en ongebruikte grond te beweeg, maar teen die 1880’s is die grense teen verdere uitbreiding gesluit.

Swart kleinboere, met hul gesinne as arbeidsmag, was as grondbewerkers die burgers van die republieke, wat oorwegend veeboere was, ver vooruit. In 1904 het ’n ingeligte waarnemer geskryf dat die swart boere in die oostelike helfte van die land ‘‘tot dusver die beste veelsydige grondbewerkers in Suid-Afrika’’ is.

Engelse kulturele oorheersing

Comments are closed.