’n Magtigingsbrief van 15 Julie 1856 het tot die totstandkoming van die kolonie Natal gelei. Dit het ’n wetgewende raad van sestien lede gehad, van wie twaalf verkies is, en vier amptenare was. Soos in die Kaap die geval was, was daar geen kleurslagboom in die grondwet nie, maar tog was dit vir iemand wat nie wit was nie, feitlik onmoontlik om ’n kieser te word. Met invoer wat in 1859 byna twee maal meer as uitvoer werd was, het die kolonie gesukkel om aan die gang te kom. Tussen 1857 en 1861 het ivoor die grootste deel van die uitvoerwaarde uitgemaak, met suiker en melasse wat vir net meer as ’n vyfde verantwoordelik was. Nadat die arbeidstekort verlig is deur Indiërwerkers in te voer (sien Indiërs in Natal), het suiker begin om sy plek as die stapelproduk van die ekonomie in te neem.
Teen 1871 het die wit bevolking net 18 000 getel, maar aangevuur deur die toekenning in 1872 van verantwoordelike bestuur aan die Kaap het Natal se Wetgewende Raad ook daarom gevra. Die regering in Londen het ander planne gehad en vir sir Garnet Wolseley as ’n spesiale kommissaris met omvattende mag uitgestuur om die grondwet en die administrasie van die naturelle te verander. In Pietermaritzburg het hy die wit leiers onthaal en, soos sy biograwe dit gestel het, ‘‘hul vryhede in sjerrie en sjampanje verdrink’’. Op sy aandrang is die aantal amptenare in die Wetgewende Raad vermeerder, asook die mag van die luitenant-goewerneur. In 1893 het Natal uiteindelik ’n parlement gekry. Zululand is in 1897 by Natal ingelyf.
Die skatting is dat daar teen 1872 ongeveer 17 500 wittes, 300 000 swartes en 5 800 Indiërs was. Teen die einde van die dekade was daar 22 000 wittes en 12 800 Indiërs. Laasgenoemdes het gehelp om die suikerproduksie van 1 173 t in 1859 tot 10 172 t in 1874 op te stoot. Daar is erg teen hulle gediskrimineer. Dit het aandag begin trek met die aankoms van Mohandas Gandhi twintig jaar later (see Gandhi se stryd).







