
Die instelling van ’n belasting op brandewyn het gelei tot die stigting van die Zuid-Afrikaansche Boeren Beschermings Vereeniging deur J. H. (Onze Jan) Hofmeyr en die Afrikaner Bond deur S.J. du Toit.
In 1853 het die Kaapkolonie verteenwoordigende bestuur gekry, maar die goewerneur, wat deur Brittanje aangestel is, het steeds die lakens uitgedeel. Die Kaapse Parlement is oorheers deur die belange van die Engelse of verengelste deel van die gemeenskap op klein dorpe en in die Moederstad en Port Elizabeth. Die hoofkwessie onder bespreking was die afwenteling van mag na die oostelike distrikte en die moontlikheid van afskeiding wat hoofsaaklik vir Engelse handelaars en spekulante van belang was.
In 1872 het die Kaap ’n gevorderde vorm van koloniale selfregering ontvang, met ’n eerste minister aan die hoof van ’n kabinet wat teenoor die Parlement aanspreeklik was. Kiesers het al hoe meer bekommerd geraak oor die regering se buitensporige besteding aan militêre veldtogte wat die kolonie diep in die skuld laat beland het. By gebrek aan politieke partye het spanning in die 1870’s tussen die uitvoerende en wetgewende gesag opgelaai.
Die spanning het breekpunt bereik toe Gordon Sprigg ’n kabinet uit politici van die Oos-Kaap en die Kaapse Middelland saamgestel het sonder ’n enkele Afrikaner of Wes- Kaapse politikus. Om die koste van nuwe spoorweë en koloniale ingryping in die oorlog tussen twee Xhosa-faksies te delg, het die Sprigg-kabinet ’n belasting op brandewynprodusente gehef. Op die dag dat die aksynswet gepubliseer is, het van die wynboere ’n ontmoeting met Jan Hofmeyr (Onze Jan), redakteur van De Zuid-Afrikaan, gehad. In Oktober 1878 het hy ’n boereparty, die Zuid-Afrikaansche Boeren Beschermings Vereeniging (BBV), gestig. In die parlementsverkiesing van 1879 het die BBV byna die helfte van die setels in die hoërhuis en ’n derde van dié in die laerhuis verower. Maar die geesdrif het gou gekwyn en die BBV kon nie juis daarin slaag om buite die Wes-Kaap te vorder nie.
In Junie 1879 het S.J. du Toit, ’n Afrikaanse predikant van die Paarl, die inisiatief geneem en die Afrikaner Bond gestig met die slagspreuk ‘‘Afrika voor de Afrikaners’’ en met takke oor die hele Suid-Afrika. Op 14 Augustus 1875 het Du Toit en sewe ander Afrikaners die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in die Paarl gestig. Hulle het besluit dat daar ’n dringende behoefte was om die Nederlands- en Afrikaanssprekende wit mense te oorreed om hulself as ’n eie gemeenskap te beskou en hulself Afrikaners te noem. Die GRA se primêre teiken was die groot aantal Afrikaners wat nie besonder welgesteld was nie en net ’n beperkte opvoeding gehad het.

Die Afrikaanse Patriot, die eerste Afrikaanse koerant. Sy sirkulasie het tot bo 3 000 gestyg nadat die Nederduitse Gereformeerde Kerk die blad as te krities oor die regering veroordeel het.
Om sy boodskap tuis te bring, het die GRA sy eie koerant, Die Afrikaanse Patriot, begin. Die eerste uitgawe het op 15 Januarie 1876 verskyn. Die styl was helder, lewendien bondig, met eenvoudige sinne en kort woorde. ’n Spanpoging me Du Toit as die hoofskrywer het ’n nasionalistiese geskiedenisboek met die naam Die Geskiedenis van ons Land in die Taal van ons Volk die lig laat sien. Die Patriot het gebruik gemaak van die Afrikaners se algemene renons in die vrye handel in goedere en geld, en in die rykdom van handelaars, bankiers en ander agente van Britse kolonialisme. ’n Belangrike teiken was die Standard Bank, uitgebeeld as ’n ‘‘reusagtige duiwelvis’’ wat die koloniste uitbuit en ’n groot deel van sy dividende na die hoofkantoor in Londen stuur.
Die Afrikaner Bond het voordeel getrek uit ’n golf van nasionalistiese emosie toe die Transvaalse burgers teen die Britse anneksasie in opstand kom. Takke van die Afrikaner Bond is oral in Suid-Afrika gestig. Hofmeyr het lid van die Bond geword en spoedig planne begin maak om die doelstellings daarvan te temper. In 1883 het ’n kongres op Richmond die samesmelting van die Bond en die BBV goedgekeur. Hofmeyr het die leier van die nuwe Afrikaner Bond geword. Sy politieke vaardighede was formidabel – Cecil John Rhodes het hom as die mees bekwame politikus in Suid-Afrika beskou.
Die eerste swart politieke vereniging was die semipolitieke Native Educational Association, wat in 1879 in die Oos-Kaap gestig is om die ‘‘algemene welsyn van die naturelle’’ te bevorder. In 1882 is die Imbumbe Yama Nyama in Port Elizabeth op die been gebring om swart mense in hul stryd om nasionale regte te verenig.








