’n Nuwe Britse Stuwing

Lord Carnarvon

Lord Carnarvon, die Britse koloniale sekretaris in die middel-1870’s, het ten spyte van teenstand onverpoos gepoog om ’n federasie van die twee Britse kolonies en die twee Boererepublieke onder Britse heerskappy te bewerkstellig.

Brittanje se verkryging van Basoetoland in 1868 en die inlywing van die diamantvelde in 1871 het ’n nuwe imperiale stuwing van Brittanje in die binneland van Suid-Afrika ingelui. Wat hieragter gelê het, was ’n besef van die ekonomiese potensiaal van die streek. Brittanje wou munt slaan uit die groei in handel en mynwese en die verbeterde vervoer en infrastruktuur in die streek. Met die oog hierop moes meer trekarbeid vir die myne, plase en openbare werke in die binneland verkry word. Nogtans het Brittanje, afgesien van beheer oor uitbreiding deur die Boerestate, groot politieke konfrontasie met die republikeinse leierskap vermy.

Dit het Brittanje egter toenemend gefrustreer om opgesaal te wees met ’n land wat in setlaarkolonies, Boererepublieke en onderworpe swart gemeenskappe onder Britse gesag verdeel is. Die regering in Londen het nogtans staatgemaak op gunstige omstandighede waarin die wit grondgebiede in ’n vrywillige federasie onder imperiale leiding ingetrek sou kon word. ’n Meer geïntegreerde sentrale staat sou in staat wees om gemeenskaplike beleid in sake soos handel, verdediging en die administrasie van swart mense en beheer oor hul arbeid te volg. Al wat nodig sou wees om die republikeinse Boere onder Brittanje se koloniale vlerk in te trek, was ferme diplomasie en vreedsame druk.

In die middel van die 1870’s het die Britse koloniale sekretaris, lord Carnarvon, flink begin voorbrand maak vir ’n federasie van kolonies en republieke onder Britse heerskappy. Maar dit was glad nie so maklik nie. Die Boerestate was geensins daarvoor te vinde om oor hul vrye identiteit te onderhandel nie, en selfs die Kaap en Natal se reaksie op die gedagte van ’n setlaarkonfederasie was lou. Maar Carnarvon wou nie sy kordate plan laat vaar nie. Ná die anneksasie van die diamantvelde van Griekwaland-Wes in 1871 het Brittanje ’n konfederasiebeleid vir sy Suid-Afrikaanse gebiede bekend gestel. Terwyl die ZAR in ’n finansiële krisis rondgespartel het en sy suidoosgrens deur Zulu-teenstanders bedreig is, het dit gelyk asof die tyd ryp was vir ’n beslissende skuif.

Die wankele ZAR word geannekseer

Die opkoms van Paul Kruger

Kruger se hervormingsmaatreëls en die kritiek daarop

Comments are closed.