Die tweede oorlogslinie: swart betrokkenheid

Black riflemen with their white commander

Die waarheid agter die retoriek van ’n “witmansoorlog”: bewapende swart hulp troepe met hul wit bevelvoerder. Hoewel albei partye daarop aanspraak gemaak het dat die oorlog niks met die swart mense te doen gehad het nie, is duisende swart mense deur albei kante as helpers in die oorlog gebruik.

In werklikheid het die meeste stedelike en plattelandse swart mense, wat ook al hul gevoelens oor die oorlog, probeer om moeilikheid te vermy en neutraal te bly. Terselfdertyd het die toenemende vyandelikhede dit moeilik gemaak om nie by die oorlog betrokke te raak nie, hetsy direk of indirek. Soos die oorlog deur die land versprei het, het baie swartes hulle in gevaar bevind. Ander is deur die vegtende magte by hul operasies betrek en het verkies om diens te doen om aan armoede te ontkom of in die hoop dat hulle beloon sou word. Daarbenewens het party op eie houtjie by vyandelikhede met die Boere betrokke geraak, hetsy om hulle te verdedig of om geleenthede aan te gryp om ou grondverliese te wreek of om te plunder. Ondanks herhaalde – en onopregte – verklarings van albei kante dat die konflik die saak van Europese opponente was, het sowel die Britte as die Boere dikwels swart hulp gebruik vir geskoolde en ongeskoolde arbeid en gevegstake. Kommando’s is deur tot 12 000 swart en gekleurde berede persoonlike bediendes, wat as agterryers bekend gestaan het, na die front vergesel. Hulle was lojale en vertroude individue wat hul Boeremeesters as geweer- en wapendraers gedien en ’n verskeidenheid ander veldpligte uitgevoer het, soos om perde te versorg, wapens in stand te hou, verkenner en boodskapper te wees, rantsoene te dra en kos te kook, en gewondes te behandel en te dra.

Ondanks hul ondergeskikte status was die agterryers dikwels op gemeensame voet met kommandolede en het hulle dieselfde klere, kos, tente en selfs musiekkultuur gedeel. Boerekommandante het soms, wanneer hulle onder druk verkeer het of kort van manskappe was, maar anderpad gekyk en bekwame agterryers as vegters in die frontlinies ontplooi.

Om begryplike redes het swart mense op ’n veel groter skaal hulp aan die imperiale oorlogspoging verleen, veral ook omdat die Britse militêre teenwoordigheid aansienlike werkgeleenthede en lone meegebring het. Minstens 100 000 swart en bruin mans, sowel as Natalse Indiërs in die mediese korps onder Mahatma Gandhi, is deur die leër in diens geneem. Die meeste het as transportwerkers, kamparbeiders en -bediendes, verkenners, ordonnanse, spioene en depotwagte diens gedoen.

Van die vroue het huishoudelike take soos die was van wasgoed vir kampe en garnisoene verrig. Hoewel die Britse magte party van hulle vir arbeid opgekommandeer het, was die meeste vrywilligers. Onder hulle was trekarbeiders wat met die uitbreek van die oorlog hul werk by die myne verloor het, en kleinboere wat weens misoeste en veevrektes in ’n benarde toestand verkeer het. Ander is deur die relatief goeie lone aangelok, of omdat hulle aan die Britse saak geglo het.

Tot 30 000 man was gewapende vrywilligers in die Britse kolonnes of koloniale dorpsgarnisoene en het aan noodlottige botsings met invallende kommando’s deelgeneem. Ander, soos die bruin grofsmid Abraham Esau, het by die weerstand betrokke geraak deurdat hulle as spioene en agente van die Britte opgetree het.

’n San-soldaat

’n San-soldaat ten tyde van die Suid-Afrikaanse Oorlog. Veral in die oostelike dele van Transvaal het heelwat San-mans uit lojaliteit hul meesters as agterryers gedien. Ander is aan die burgers voorsien ná hulle deur die regerings van die twee republieke vir diens opgekommandeer is.

Terwyl die oorlog die lewe van ongeveer 7 000 Boere en 22 000 imperiale soldate geëis het, sal ons nooit weet hoeveel gewapende swart deelnemers in gevegte gesneuwel het nie. Net so is daar geen syfers vir die aantal Britse meelopers wat summier tereggestel is toe hulle deur die Boere gevang is nie, en weet ons ook nie hoeveel republikeinse meelopers die slagoffers van ongeoorloofde Britse weerwraak was en as spioene doodgeskiet is nie. Tog het die grootste menslike verlies elders gelê. Vir die swart plattelanders, soos ook vir die Boere, was dit in die Britse konsentrasiekampe. Plaasbewoners, bediendes en kleinboere wie se heenkome deur die verskroeide-aarde-beleid vernietig is, het die skare van oorlogsvlugtelinge met duisende laat toeneem. Swart vlugtelinge, wat in afsonderlike kampe geïnterneer is, is verplig om vir die Britse magte te werk en het die lot van die Boere se families gedeel – afgryslike omstandighede en hoë sterftesyfers. Daar word nou geskat dat minstens 20 000 swart mense gesterf het, hoofsaaklik weens epidemiese siektes wat die verswakte kampbewoners afgemaai het.

In hierdie opsig kan die ervaring van die konsentrasiekampe beskou word as ’n gemeenskaplike trauma vir die swart en Boeresamelewing – maar met die nodige inagneming van verhouding. Swart burgerlike ongevalle was die gevolg van ’n Britse oorlog teen ’n mili têre en burgerlike Boerefrontlinie. Van die ongeveer 116 000 Boere wat in ongesonde en swak bestuurde kampe vir wit mense gehuisves is, het sowat 28 000 gesterf, hoofsaaklik aan masels, maagkoors en longontsteking. Byna al die slagoffers was vroue en jong kinders. Die Engelse humanis Emily Hobhouse het baie gedoen om die wêreld attent te maak op die haglike toestande in die kampe.

Die uitwerking van sulke kolossale verliese op ’n Boeresamelewing op die hoëveld wat uit weinig meer as ongeveer 200 000 mense bestaan het, kan nie oorskat word nie. Waar die lyding in die kampe die laagtepunt van die Boere se oorlewing verteenwoordig, het dit vorm aan een van die blywendste nalatenskappe van die konflik gegee – dat oorlog ’n jammerlike saak eerder as die tradisioneel heroïes of romanties gewaande avontuur is.

Terwyl dit misleidend sou wees om dit ’n oorlog te noem waaraan almal deelgeneem het, is die mate waarin manlike en vroulike burgerlikes in die vyandelikhede ingetrek is, en die omvang van swart deelname, genoeg om een ouer historiese mite die nek in te slaan – dié mite van ‘‘’n witmansoorlog’’. Die wreedaardigheid van die krygstaktiek soos die afbrand van plase, die toestande in die kampe en summiere teregstellings weer lê ’n tweede hardnekkige mite – dat die Suid-Afrikaanse hoëveld getuie was van die Europese wêreld se laaste ‘‘gentleman-oorlog’’, een wat met eer en wedersydse respek gevoer is. Dit is meer gepas om die Suid-Afrikaanse Oorlog as die mees gewelddadige en vyandige slag tussen die Britse Ryk en ’n Suid-Afrikaanse samelewing in meer as ’n eeu te beskou.

Vir nie een van die kante was die oorlog deurentyd ’n kwessie van ’n nasionale verbintenis om ’n gemeenskaplike vyand te verslaan nie. Britse liberale soos Emily Hobhouse en anti-oorlog-radikale soos Lloyd George het die onmenslikheid van hul land se gebruik van konsentrasiekampe as barbarisme veroordeel. Britte wat aan die kant van die Boere was, het die republieke as ’n landelike Eden in Suid-Afrika geïdealiseer en die oorlog as ongeregverdigde optrede teengestaan. In Suid-Afrika het hierdie siening ingang gevind by gesiene Kaapse Engelse goedgesindes soos Olive Schreiner.

Die republikeinse leierskap het voortdurend op ’n massarebellie deur die koloniale Boere in die Kaap gehoop, want al was hierdie Boere Britse onderdane, was die verwagting dat hulle oorwegend dislojaal teenoor die kroon sou wees. Maar die idee van ’n groot opstand deur ’n plattelandse vyfde kolonne het ’n lugkasteel geblyk te wees. Daar was wel Kaapse Boere wat nie slegs hul seuns gestuur het om in die Oranje-Vrystaat te gaan veg nie, maar ook gerebel leer het deur steun aan invalskommando’s te verleen. In die loop van die oorlog was daar ongeveer 12 000 man wat as republikeinse rebelle opgetree het, en die aantal koloniale meelopers kon selfs groter gewees het indien die republikeinse inval die kolonie dieper binnegedring het. Hul getalle was egter te klein om enige deurslaggewende strategiese gevolge te hê.

Nogtans het die afkondiging van krygswet om ’n rebellie te voorkom, weinig gedoen om die kwaai angel van plaaslike oorlogsgesinde Boere uit te trek. Die gebruik van swart en bruin getuies in slordige spesiale howe wat rebelle op aanklagte van hoogverraad, moord en roof verhoor en veroordeel het, het die Boere woedend gestem. So ook die gebruik om veroordeelde mans in die openbaar tereg te stel en om rebellegevangenes te dwing om die teregstellings by te woon. Een teregstelling, dié van kmdt. Gideon Scheepers in Januarie 1902 – ondanks die feit dat hy ’n burger van die Oranje-Vrystaat en ’n gesieneoffisier was – het selfs sekere Britse parlementslede die behoorlikheid van die krygshowe se prosedures laat bevraagteken.

Wat die oorlog self betref, was daar te veel Kaapse Boere wat te realisties was om aan die republikeinse verwagtinge te voldoen. Hulle het die lewe as onderdane van die kroon meestal draaglik gevind, en was onwillig om die risiko van ’n republikeinse oorlog te loop wat hulle aangevoel het nie gewen kon word nie. Dit is beduidend dat party koloniale lojaliste selfs by dorpswagte en plattelandse burgermagte aangesluit het om hul suidelike nedersettings teen noordelike Boere-invalsmagte te beskerm.

Dan was daar die interne verdeeldhede van die republikeinse samelewing. Dit was die bron van diepe verbittering, en die littekens daarvan sou nog lank na die oorlog bly voortbestaan.

Dit het nie slegs die oorlog self beïnvloed nie. Die kwessie van oorgawe aan en samewerking met Britse imperialisme het selfs die vredesluiting vertroebel. Meer inskiklike generaals soos Louis Botha was bereid om brood met die vyand te breek en om oor die prysgawe van hul saak te onderhandel. Meer onversoenlike leiers, veral van die verwoeste Oranje-Vrystaat, het volgehou om wat hulle as swakheid beskou het, met minagting te bejeën. Tot aan die einde was hulle vasbeslote om voort te veg en weerstand te bied totdat hulle tot onvoorwaardelike oorgawe gedwing was, en dit ondanks Smuts se realistiese siening dat wat die republikeine in die gestig gestaar het ’n katastrofiese opoffering van die Boeremense was vir ’n saak wat nie meer gered kon word nie.

Aan die einde van die Suid-Afrikaanse Oorlog was dit duidelik dat die Boere in ’n Transvaal- en ’n Oranjerivierkolonie tot samewerking gedwing sou word, en dat Britse heerskappy oor die hele Suid-Afrika geseëvier het. Maar die Afrikanersamelewing se ervaring van lyding en opoffering sou dit in die 20ste eeu bly kwel en die ideologiese werktuie van oorlogsherinneringe verskaf wat ’n rol sou speel in die toekomstige heropbou van ’n Afrikanernasionalistiese identiteit en ’n republikeinse politieke kultuur.

Vir die swart meerderheid, wat in teorie nie veronderstel was om by die oorlog betrokke te gewees het nie, was daar ’n gemengde uitkoms. Dit is wel waar dat terwyl die oorlog geduur het dit baie monde gevoed het, en selfs die sakke gevul het van daardie kleinboere wat by die verkoop van vee en gewasse aan die Britte gebaat het. Net so was daar baie ander wat smartlike verliese gely het waarvoor daar weinig indien enige kompensasie van die imperiale kant gekom het. Dié wat toegelaat was om wapens te dra, is spoedig ontwapen om seker te maak dat hulle nie in die toekoms moeilikheid sou maak nie. Maar daar was baie ander, soos die Kgafela-Kgatla, wat eenvoudig geweier het om hul wapens in te lewer. Op rebelse pagters wat vee gebuit of grond op plase in die voormalige republieke beset het, het daar ook ’n onaangename verrassing gewag. Hulle het die hele tyd opgegaan in die Britse verplettering van die Boere, en geglo dat dit wat hulle gebuit het hul eiendom sou bly. In plaas daarvan sou terugkerende Boere terugvat wat hulle verloor het, gesteun deur die British South African Constabulary.

Wat die uitwerking daarvan op die Suid-Afrikaanse samelewing betref, was die Suid- Afrikaanse Oorlog die naaste wat die land nog ooit gekom het aan ’n ervaring van die onmenslikheid van die moderne totale oorlog – iets soos die langdurige industriële oorloë van die 20ste eeu. Die skrikbeelde wat die oorlog in mense se geheue ingeprent het, het herinner aan die genadelose aard van wat vir ’n tyd lank na Suid-Afrika se eie nimmereindigende oorlog gelyk het.

Comments are closed.