Die Eerste Wêreldoorlog Die Nadraai Van Die Oorlog

Patients in US Army hospital Aix-les-Baines

Pasiënte in ’n saal vir griepslagoffers in ’n Amerikaanse leërhospitaal in Frankryk tydens die Eerste Wêreldoorlog. Dié verwoestende pandemie het, ná die slagting in die loopgrawe aan die Wesfront, verdere ellende vir die gevegsmagte en die burgerbevolking meegebring.

Op 11 November 1918 het ’n wapenstilstand ’n einde aan die gevegte tussen die Geallieerde en die Sentrale Magte gemaak. Daar was 32 state wat aan die begin van 1919 ’n konferensie in Parys bygewoon het om verdrae op te stel wat, soos hulle gehoop het, vrede en bestendigheid sou verseker. Benewens die Unieregering se amptelike verteenwoordigers by die Paryse konferensie was daar twee ander groepe Suid-Afrikaners wat in 1919 na Europa gegaan het om hul griewe te verwoord en hul sienswyses te lug: ’n SANNC-deputasie met Sol Plaatje aan die hoof en ’n Afrikanernasionalistiese afvaardiging onder leiding van J.B.M. Hertzog.

Daar was lede van die SANNC wat geglo het dat die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog die deputasie van 1914 verhinder het om ’n groter indruk op die Britse regering en publiek te maak. Waar sowel die Britse premier, David Lloyd George, as die Amerikaanse president, Woodrow Wilson, die regte van klein nasies en die leer van selfbeskikking beklemtoon het, het hulle geglo dat die tyd ryp was om op hul eise aan te dring.

In die middel van Desember 1918 het S.M. Makgatho, president van die SANNC, kongreslede na Johannesburg ontbied vir ’n spesiale vergadering wat deur die burgemeester van die stad geopen is. Daar is ooreengekom dat ’n deputasie na Brittanje gestuur sou word en dat hulle ’n petisie aan koning George V sou opstel en dit aan die goewerneurgeneraal sou oorhandig. Die petisie het talryke voorbeelde van swart lojaliteit in die oorlog genoem en die griewe van die swart inwoners van Suid-Afrika uitgestippel wat, soos hulle dit gestel het, onder ’n verskuilde vorm van slawerny gelewe het.

Die petisie het die koning gevra om die grondwet van die Unie te laat hersien om te verseker dat swart mense oral in Suid-Afrika die stemreg kry. Die kongres het beklemtoon dat nie een van die protektorate sonder die goedkeuring van die inwoners van die gebiede aan die Unie oorgedra moet word nie. Voorts het die petisie die kongres se sterk gevoel verwoord dat nóg Duits-Suidwes-Afrika nóg Duits-Oos-Afrika aan die Unie oorgedra behoort te word tensy die grondwet gewysig word om kleurvooroordeel te verwyder. Dit was natuurlik buite die kwessie dat die petisie die situasie in die Unie sou verander – dit het trouens nooit eens by die koning uitgekom nie. Wat dit belangrik maak, is dat dit die sienswyses van die SANNC weerspieël het.

In April 1919 het R.V. Selope Thema en L.T. Mvabaza van Kaapstad na Brittanje gevaar om die SANNC te verteenwoordig. Thema het gedurende die Eerste Wêreldoorlog as sekretaris-generaal waargeneem en Mvabaza, wat lid van die 1914-deputasie na Londen was, is in 1918 as een van die vermeende opstokers van die staking van sanitêre werkers in Johannesburg in hegtenis geneem. Sol Plaatje, die bekende joernalis en skrywer, wat in 1914 na Brittanje gegaan het om teen die Naturellen Grond Wet beswaar te maak, en J.T. Gumede van Natal en stigterslid van die SANNC, het later by hulle aangesluit.

South African soldiers buried at Delville Wood cemetery

Talle Suid-Afrikaanse soldate is ver van hul tuiste begrawe in die oorlogsbegraafplaas by Delville-bos in Frankryk, die laaste rusplaas van dié wat betrokke was by sommige van die bloedigste veldslae van die Eerste Wêreldoorlog.

Thema en Mvabaza het na Parys gegaan, maar hul pogings om hul saak op die vredeskonferensie te stel, het misluk. Hulle het egter by Lloyd George die belofte gekry dat hy hulle ná sy terugkeer na Londen sou ontmoet. Die koloniale sekretaris, lord Milner, het op ’n memorandum waarin swart griewe uiteengesit is, geantwoord deur te herhaal dat Brittanje nie in die huishoudelike sake van ’n selfregerende dominium kan inmeng nie. Plaatje in die besonder het voortgegaan om die griewe van sy mense bekend te maak en in Julie 1919 toe die begrotingspos van die koloniale kantoor in die Britse laerhuis bespreek is, het ’n aantal parlementslede oor die onderwerp gepraat. Die Britse regering het egter voet by stuk gehou oor sy beleid om nie in Suid-Afrika se sake in te meng nie.

In November 1919 het die SANNC-afvaardiging vir Lloyd George ontmoet. Die swart afgevaardigdes was veral krities oor die paswette, wat hulle as soortgelyk aan die wette in die slawestate in die suide van die Verenigde State beskryf het, en die Naturellen Grond Wet wat, soos hulle gesê het, hulle tot die posisie van swerwers in hul geboorteland reduseer. Hulle het groot en kragtige magte in die gesig gestaar wat vasbeslote was om die kleurslagboom af te dwing en die opvoedkundige en ekonomiese vooruitgang van die swart bevolking te verhoed. Lloyd George het geantwoord dat die Britse regering nie by magte was om die kwessies wat hulle geopper het, op te los nie.

Lloyd George was geïmponeer deur die afvaardiging en het aan Smuts geskryf dat die swart afgevaardigdes ‘‘manne met aansienlike redenaarstalente’’ was. Hy het hom dringend versoek om hulle te ontmoet en aan hul legitieme aspirasies gehoor te gee. Hy het ook ’n waarskuwing bygevoeg:

Indien hulle wel onder beperkinge gebuk gaan en indien daar geen doeltreffende grondwetlike manier is waarop hulle daaraan uiting kan gee nie, is dit duidelik dat daar vroeër of later ernstige gevolge moet wees . . . Die kleurkwessie is nou ’n wêreldkwessie. Dit is onmoontlik om in waterdigte kompartemente daarmee te werk. Wat Suid-Afrika doen, is vir die res van ons van deurslaggewende belang, net soos wat ons doen vir julle van deurslaggewende belang gaan  wees.

Hierdie mislukte sending was die laaste ernstige poging om Britse bemiddeling in Suid- Afrika se sake te verkry, en dit het die einde gesien van die vroeë tydperk van swart politieke aktiwiteit. In die eerste opwelling van sy totstandkoming en aangevuur deur die Grond Wet en die Naturelle Administrasie Wet het die SANNC dadelik die aanvaarde kanaal vir swart politieke protes geword. Nadat hierdie wanhopige gebaar misluk het, het die beweging veel van sy samehang en inisiatief verloor.

Louis Botha en Jan Smuts, wat die Suid-Afrikaanse regering verteenwoordig het by die vredeskonferensie in Parys wat ’n einde aan die Eerste Wêreldoorlog gemaak het, het sewentien jaar tevore ’n vredesberaad in Vereeniging as verteenwoordigers van ’n verslane staat bygewoon. Daar kan dus beweer word dat hulle in sekere opsigte skerper insigte as ander afgevaardigdes gehad het in die implikasies van vredesvoorwaardes wat deur oorwinnaars ná ’n oorlog afgedwing word.

Hulle was ook direk gemoeid met en diep begaan oor ’n spesifieke territoriale aspek van die ooreenkoms – die toekomstige beheer oor Duits-Suidwes-Afrika. Daar is uiteindelik besluit dat Suidwes-Afrika ’n C-klas-mandaat sou word. Dit sou as ’n geïntegreerde deel van die mandaatstaat, Suid-Afrika, geadministreer word, onderworpe daaraan dat verslae aan die Volkerebond voorgelê word. Op 28 Augustus 1919 is Louis Botha een maand voor sy 57ste verjaardag in Pretoria oorlede. Die 49-jarige Smuts het die tweede premier van die Unie van Suid-Afrika geword.

Comments are closed.