Die Unie Word Van Stapel Gestuur Die Land Word ‘‘opgedeel’’

Suid-Afrika en sy vier provinsies ten tyde van Uniewording.

Suid-Afrika en sy vier provinsies ten tyde van Uniewording.

Konsolidasie en sentralisasie was die twee dringendste prioriteite van die SAP-regering. Die staatsdiens is gekonsolideer, en Botha en Smuts het aan die argitek Herbert Baker die opdrag gegee om die nuwe regeringsgeboue te ontwerp. Hierdie imposante Uniegebou, soos dit bekend geraak het, is in 1913 op Meintjieskop minder as 2 km van die middel van Pretoria af teen ’n koste van £1 180 000 voltooi. Die eindproduk het ’n ‘‘edelheid van plek en styl’’ besit. Twee identiese blokke en torings het die ‘‘twee rasse van Suid-Afrika’’ – die Engels- en Afrikaanssprekendes – gesimboliseer, wat in die sentrale amfiteater in harmonie bymekaar gebring word.

Die mees omstrede wet wat deur die eerste Unieparlement aangeneem is – en die een wat die mees verreikende implikasies sou hê – was die Naturellen Grond Wet van 1913. Die wetsontwerp, wat die werk was van J.B.M. Hertzog, die opvolger in 1912 van Burton as minister van naturellesake, het die segregasievoorstelle van die Lagden-kommissie (1903-1905) en die verslag van die Native Affairs Committee onder Burton (1912) gevolg. Teen Desember 1912 was Hertzog nie meer lid van die kabinet nie, en alweer ’n ander minister van naturellesake, J.W. Sauer, het die wetsontwerp deur die Parlement geloods. Die wet het vir die aankoop, huur, besit en bewoning van grond deur swartes en wittes in die Unie van Suid-Afrika voorsiening gemaak en die aard van swart grondpag gedefinieer.

Hierdie bepalings sou belangrike reperkussies met betrekking tot werktoestande vir swartes in landelike sowel as stedelike gebiede hê. ’n Bylae tot die wet het bepaal watter grond as ‘‘naturellegebiede’’ beskou moes word. Hierdie aangewese gebiede – almal bestaande reservate, stamlokasies en plase in swart besit – het ’n totaal van sowat 8,9 miljoen hektaar, of minder as 8% van die Unie se grondoppervlakte beslaan. Verder was daar die belofte dat die Parlement, op advies van ’n kommissie, later meer grond vir swart besit en bewoning beskikbaar sou stel.

Die Uniegebou in Pretoria is ontwerp deur die Britse argitek sir Herbert Baker en in 1913 ingewy. Die twee vleuels verteenwoordig die vereniging van die twee “rasse” in Suid-Afrika, soos daar destyds na hulle verwys is: die Engelstaliges en die Afrikaners.

Die Uniegebou in Pretoria

Behalwe met die goedkeuring van die goewerneur-generaal kon niemand wat nie swart was grond in die aangewese gebiede bekom nie. ’n Swart mens is nie toegelaat om buite die aangewese gebiede grond van ’n witte te koop nie. Die wet het verder bepaal dat alle swart pagters as ‘‘bediendes’’ gedefinieer word.

Die wet sou nie deurgaans in die hele Suid-Afrika van toepassing wees nie. Aangesien dit nie deur ’n tweederdemeerderheid van albei die huise van die Parlement aangeneem is nie, kon dit nie in die Kaapprovinsie afgedwing word nie – dit sou inbreuk op die grondwet gemaak het. Die stemregklousule was verskans, en enige beletsel op die reg van mense om ongeag hul kleur eiendom te besit, sou die vermoë van mense om vir stemreg te kwalifiseer, negatief beïnvloed. In Transvaal en Natal was die bedoeling dat daar nie teen swart pagters opgetree sou word voordat ekstra aangewese grond beskikbaar gestel is nie. In die Vrystaat sou swart deelsaaiery onmiddellik onwettig word, en swart pagters kon slegs op plase aanbly indien hulle of lede van hul gesinne daar gewerk het.

Wat was die kragte wat vir die wet verantwoordelik was? Wit boere in Transvaal en die Vrystaat het druk op die regering uitgeoefen om ’n stokkie te steek voor verdere aankope van grond deur swart mense in wat hulle as ‘‘wit gebiede’’ beskou het. Daar is geglo dat hierdie praktyk, wat dikwels moontlik gemaak is deurdat ’n groepie swart mense middele saamgegooi het, aan die toeneem was, en dit is as ’n bedreiging beskou. Die Naturellen Grond Wet was ook ’n poging om die ontstaan van ’n onafhanklike swart kleinboerestand te voorkom en sodoende die beskikbaarheid van goedkoop swart arbeid op die platteland sowel as in die stede te verseker.

Swart sienings van die grond wet

Comments are closed.