Herbert Gladstone, die seun van ’n voormalige Britse premier en nou die Suid-Afrikaanse goewerneur-generaal, moes die politikus wat na sy mening die meeste steun geniet het, vra om ’n kabinet te vorm. Aangesien oudpres. Steyn weens swak gesondheid nie beskikbaar was nie, het die keuse tussen Louis Botha en John X. Merriman gelê. Nie een van die twee was bereid om onder die ander te dien nie. Gladstone het op Botha besluit, en dié het ’n kabinet saamgestel bestaande uit lede van die regerende partye in die vier provinsies. Die Unie van Suid-Afrika is op 31 Mei 1910 ingelui. Die eerste verkiesing is in September 1910 gehou. Die regerende partye het 67 setels gewen, die Unionisteparty 39, die Arbeidersparty 4 en die Onafhanklikes 11. In 1911 is die Suid-Afrikaanse Party (SAP) gestig om die koalisie van voormalige regerende partye te vervang.




