Vanaf die eerste dag ná die ondertekening van die vredesverdrag het die oorwonne Boereleiers geweet dat Brittanje haastig was om die unifikasie van die vier Britse kolonies teweeg te bring en dat die bedoeling was dat dit ’n Britse Suid-Afrika sou wees.
Maar daar was politici wat Milner se aggressiewe imperialisme teengestaan het en ’n Suid-Afrikaanse Suid-Afrika wou hê. Hulle het geweet dat hulle nie tyd moes verspil om die verdeeldheid tussen bittereinders en hensoppers te besweer, hul eie koerante te begin en politieke partye te stig nie. Finansieel geknak deur die oorlog, het die Boereleiers hulle tot ondersteuners in Europa gewend.
Toe Botha, De la Rey en De Wet Europa toe is om geld vir Boereweduwees en -wese in te samel, kon hulle net effens meer as £100 000 bymekaar kry. Van groter betekenis was dat hulle ’n ontmoeting met Kruger gehad en toegang tot republikeinse fondse oorsee gekry het, wat hulle in Transvaal en die Oranjerivierkolonie kon aanwend.
Hierdie geld is nie aan armesorg bestee nie (wat, soos Smuts privaat verduidelik het, hulle aan die Britse owerhede kon oorlaat), maar aan die vestiging van koerante en ander projekte wat ’n politieke herlewing onder die Afrikaners kon bevorder.
Twee belangrike Nederlandse koerante is gefinansier. De Volksstem (Pretoria), met die invloedryke dr. F.V. Engelenburg as redakteur, het in Maart 1903 herverskyn, en Het Westen (Potchefstroom) is in November 1904 vir die eerste keer gedruk – met invloed wat tot ver buite Wes-Transvaal gestrek het. Die generaals het ook ’n mislukte poging aangewend om Land en Volk (Pretoria), onder redaksie van Eugène Marais, in die hande te kry.
Die ywer van die Afrikaners om die ontwikkeling van hul taal en kultuur te verseker (met Christelik-Nasionale onderwys as een van die manifestasies daarvan) het tot die tweede Afrikaanse taalbeweging aanleiding gegee, wat in 1903 deur die herlewing van die Taalbond onder Onze Jan Hofmeyr en ander Kaapse Afrikaners ingelui is. Die Taalbond se doel was om die volkstaal te ontwikkel, maar volgens party van hierdie mense was die volkstaal nog steeds Nederlands eerder as Afrikaans.
In die noorde was daar egter die skrywer-joernalis Gustav Preller, en die digters Eugène Marais, Jan F.E. Celliers en J.D. du Toit (Totius) wat hulle vir die gebruik van Afrikaans in literêre werke en in die openbare lewe beywer het. Twee van die mees onvergeetlike gedigte, met hul wortels in die volk se herinnering aan die lyding wat hulle tydens hul Vryheidsoorlog moes verduur en aan die Boere se lot ná Vereeniging, was Marais se “Winternag” en Celliers se “Dis al”. Die grimmige wanhoop wat uit die troostelose bewoording van hierdie gedigte straal, het die Afrikaners ontroer.
Die skeur tussen National Scouts en Volunteers aan die een kant en die bittereinders aan die ander is nie deur die koms van die vrede herstel nie. In Oktober 1902 het Eugène Marais in Land en Volk geskryf ‘‘die gevoel van haat is so diep soos die see en so wyd soos God se aarde’’. Die NG Kerk het vereis dat meelopers hul ‘‘skuld’’ beken voordat hulle die sakramente kon gebruik. In 1903 het party hensoppers en joiners ’n aparte Scout-kerk gestig, maar teen 1906 het dit feitlik ophou bestaan. Baie meelopers het begin voel dat die Milner-regime nie aan hul verwagtinge voldoen nie. Hulle het met die bittereinders meegedoen in hul verdoeming van die Britse owerhede. Die nuwe Boereleiers het uitsluitlik uit die geledere van die bittereinders gekom.
Vyf maande ná die dood van Paul Kruger in Switserland in 1904 is sy gebalsemde liggaam na Pretoria gebring vir ’n begrafnis, en dit het stukrag aan die politieke herontwaking van die Afrikaners gegee. In 1905 is die politieke party Het Volk in Transvaal onder die dekmantel van landbouverenigings gestig, met Louis Botha as voorsitter en gesteun deur Jan Smuts, C.F. Beyers en ander hooggeplaastes uit die Suid-Afrikaanse Oorlog. ’n Soortgelyke ontwik keling het in die Oranjerivierkolonie plaasgevind met die stigting van die Orangia Unie in Mei 1906 onder die leierskap van J.B.M. Hertzog, Abraham Fischer en C.R. de Wet.
Milner was bewus daarvan dat die nuwe kolonies ’n vorm van selfregering moes kry, maar het sterk teenstand ervaar. Chamberlain se opvolger as minister van kolonies, Alfred Lyttelton, het die toeken ning van verantwoordelike bestuur afgekondig. Alhoewel die grondslag bevordering van die versoening tussen Boer en Brit was, was hierdie toekenning nie maar net ’n ruimhartige gebaar nie. Dit was ook bedoel om die lojaliteit van die meerderheid van die wit Suid-Afrikaners jeens die imperiale gemenebes-verbintenis te verseker.
Aanbevelings oor die besonderhede van die grondwet is in Julie 1906 deur ’n kommissie van ondersoek gedoen. Wat op die spel was, was die grondslag en aard van die afbakening van kiesafdelings – daar was nooit sprake dat enigeen behalwe wit inwoners die stemreg sou kry nie. By nabetragting lyk dit asof slegs grootskaalse afbakeningsgeknoei sou kon voorkom dat die ‘‘Boerepartye’’ in die twee state die verkiesings wen. Ondanks vertoë deur verskeie organisasies het geen swart of bruin mense die stemreg gekry nie. Dit wil voorkom of die Britse regering deur Klousule Agt van die Vereeniging-ooreenkoms verplig was om nie die stemreg aan swart mense in die nuwe kolonies te gee voordat selfregering toegestaan is nie; maar daar was blykbaar geen soortgelyke beperking ten opsigte van bruin en Indiër-inwoners nie.
In Februarie 1907 het Het Volk die verkiesing in Transvaal gewen toe dit 37 setels verower het teenoor die 21 van die hoofopposisie, die Progressiewe, wat deur die goudmynbelange gesteun is. Louis Botha het die premier geword en aan die hoof gestaan van ’n kabinet wat aan die Wetgewende Vergadering verantwoording moes doen. In die verkiesing van die Oranjerivierkolonie in November 1907 het die Orangia Unie ’n klinkende oorwinning behaal deur dertig setels te wen teenoor die agt van die Konstitusionele Party. Abraham Fischer het eerste minister geword. Toe Merriman se Suid-Afrikaanse Party in 1908 die algemene verkiesing in die Kaapkolonie wen, het dit beteken dat drie van die vier state deur Afrikaner- of Afrikanergesteunde partye geregeer word.







